Departementshoof vas ná hy glo lieg oor burgerskap

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: SAPD)

Die hoof van die departement van menslike nedersettings in Mpumalanga is vandeesweek in hegtenis geneem nadat dit aan die lig gekom het dat hy al glo sowat 25 jaar lank onwettig in die land is.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê Kebone Masange (51) is Woensdag deur amptenare van die departement van binnelandse sake in hegtenis geneem nadat hulle ʼn ondersoek van stapel gestuur het om sy burgerskap na te gaan.

“Die ondersoek is begin nadat Masange, ʼn Zimbabwiese burger, na bewering sedert 1995 onwettig in die land is.

“Volgens die nasionale bevolkingsregister het Masange drie verskillende identiteitsdokumente op verskillende datums bekom. Hy het twee van die identiteitsdokumente as ʼn Suid-Afrikaanse burger aangevra en die ander een as ʼn vrygestelde Zimbabwiese burger wat in 1997 toegestaan ​​is.”

Volgens Mulaudzi is dit egter strydig met die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se amnestie wat bepaal dat ʼn persoon sedert Julie 1991 deurlopend in Suid-Afrika moes woon om vir die amnestie in aanmerking te kom.

Masange het na bewering enkele maande voordat die SAOG-vrystelling goedgekeur is in Maart 1997 ʼn aansoek om kennisgewing van geboorte en sy eerste RSA-identiteitsdokument met die naam Kebone Masangeni by die Ferreirasdorp-streekskantoor in Johannesburg ingedien. Hy het in die genoemde aansoek beweer dat hy in Johannesburg gebore is.

Hy het glo in Mei 1997 deur wanvoorstelling ʼn ander identiteitsdokument as landsburger ontvang, maar dié keer beweer hy dat hy in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal gebore is.

Masange het na bewering in Januarie 2007 boonop daarin geslaag om sy destydse vrou te help om permanente verblyfstatus in Suid-Afrika te verkry.

Hy is in ʼn stadium egter na die kantoor van binnelandse sake vir ʼn onderhoud ontbied nadat die departement se stelsel die drie verskillende identiteitsnommers wat aan hom uitgereik is, uitgewys het. Masange het toe ʼn beëdigde verklaring afgelê waarin hy verklaar dat hy in Letlhabile in Brits gebore is.

“Masange het homself duidelik drie keer verkeerd voorgestel aan die departement. Hy het ook nie albei identiteitsdokumente oorhandig wat hy bekom het deur wanvoorstelling tydens die amnestie in 2010 wat aan Zimbabwiese burgers toegestaan ​​is nie,” het Mulaudzi gesê.

Masange staan nou tereg vir bedrog rakende die Immigrasiewet.

Luidens die verklaring het die beskuldigde reeds Donderdag in die Pretoriase landdroshof verskyn waar hy op waarskuwing vrygelaat is. Hy sal na verwagting weer op 11 September in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cornelius ·

Hulle vind dit nou eers uit. Hoe het hy Departements hoof geraak?

Daleen ·

Hy is maar een van duisende onwettige immigrante in ons land. Die ander bly net onder die radar. Wat gaan die dept van binnelandse sake omtrent die ander indringers doen? O ja NIKS.

Tanniepetoors ·

Slim vang sy baas. Departementshoof wat se sekerheidsklaring seker heel laaste ingegee was. Gedink sy klerke is onnosel

My siening ·

Dit meen die land se hekke is al in Madela se tyd oop gegooi!

Eiervrug ·

Vanaf 1995… Hy het daai jaar besluit om te bly, het seker ook die boodskap gekry van die kos en wasmasjiene wat nou soos reen gaan afkom. Ek neem aan hy wag nog….

Simon ·

Hulle het die land onwettig met die ANC se hulp, binne gekom om stemme te bekonkel nou sit hulle met die gebakte pere maar pleit nou onskuldig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.