Depressie nie kruk, maar superkrag vir Zaretha

Die gospelsanger Zaretha van Wyk (Foto: Melissa Meyer Photography)

Die gospelsanger Zaretha van Wyk beskou nie meer haar depressie en gebrokenheid as ʼn karakterfout nie, maar eerder ʼn soort superkrag wat sy kan gebruik om musiek tot God se eer te skryf.

“Depressie help my om dieper te delf en toegang te kry tot my gevoelens. Só kan ek woorde vind om werklik te beskryf hoe ek voel en veral hoe ek oor God voel.

“Die Here wil jou kom ontmoet in daardie diepste, donkerste plek.”

Zaretha (32) kom uit ʼn musikale gesin en neem reeds van jongs af aan sangkompetisies deel. Sy het in 2016 aan die gewilde sangkompetisie The Voice deelgeneem. Dit is egter eers ʼn paar jaar gelede, toe sy haar talent begin gebruik om gospelmusiek te skryf en sing, wat sy werklik haar roeping gevind het.

Dié ma van twee het Vrydag haar jongste enkelsnit, “Lasarus kom uit!”, bekendgestel. Met dié lied wil sy mense aanmoedig om te antwoord wanneer God aan jou hart klop.

“Volg Hom en weet, selfs wanneer dit voel of daar geen lewe in jou is nie, Hy sal nuwe lewe in jou blaas, en selfs die mees verdwaalde mense ’n nuwe identiteit gee.”

Depressie ‘vind die woorde’

Zaretha van Wyk en haar man, Stiaan, saam met hul twee kinders Elijah en Ellie. (Foto: Melissa Meyer Photography)

Zaretha weet hoe dit voel om verdwaald te wees.

Sy sukkel van jongs af met depressie en het op die ouderdom van 19 vir die eerste keer haar eie lewe probeer neem.

Sy is opgeneem in ʼn psigiatriese hospitaal waar bipolêre depressie by haar gediagnoseer is. “Ek het medikasie gekry en moes probeer sin maak van ʼn diagnose en ʼn hand vol pille wat steeds nie my leemte gevul het nie.”

Sy was in dié tyd betrokke by ʼn kerk, maar sê omdat hulle nie haar depressie verstaan het nie, het die lede van die kerk nie die ondersteuning gebied waarna sy so gesmag het nie.

Op 20-jarige ouderdom het sy weer probeer selfmoord pleeg. Sy is weer in die hospitaal opgeneem en het dié keer met ʼn arbeidsterapeut te doen gehad deur wie sy opnuut Jesus se liefde beleef het en sy het ʼn herontmoeting met God gehad.

“Nadat ek ontslaan is, het ek steeds gestoei met die depressie en die gevolge, maar ek het ʼn klein bietjie hoop gehad, want die Here het aan my skouer getik.”

In 2018 is sy deur ʼn kerk genader om hul lofprysing te lei. Dit is hier waar sy God se liefde en aanvaarding werklik begin ervaar het en sy het eindelik haar droom om teologie te studeer uitgeleef. Sy is tans besig met haar meestersgraad in teologie.

In 2022 het Zaretha haar eerste gospellied, “Krake”, in samewerking met die musiekgroep Onbeskaamd geskryf en opgeneem. Dié lied was twee weke lank in die no. 1-posisie op Radio Tygerberg se gospeltrefferlys.

“‘Krake’ verwys na God se lig wat deur ons krake skyn.

“Ek glo almal van ons beleef oomblikke wanneer ons nie goed genoeg voel nie, maar God kyk na elke kraak en sien spasies waar sy lig kan deurskyn.”

Sy glo depressie het haar gehelp om diep te delf en die woorde te vind om die pyn wat sy ervaar te beskryf, ook vir ander wat dieselfde pyn beleef, maar dit nie kan verwoord nie.

“Dawid het ook baie intens en diep ervaar en dit in Psalms neerpen. Dit het ʼn woordeskat tot gevolg gehad wat ons vandag nog gebruik.”

Daarmee saam het musiek haar gehelp om haar depressie te verwerk.

“Musiek laat ʼn mens emosies op ʼn unieke manier ervaar. Ons wil groot emosies onderdruk, maar as dit tot die oppervlak gebring word, kan God ons ontmoet en genees. Musiek het die pyn na die oppervlak gebring en die genesing aangehelp.

“God gebruik jou gebrokenheid om iets moois tot sy eer te skep.”

Luister hier na Zaretha se nuwe enkelsnit:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.