Dept. berus in uitspraak oor mynbouhandves

Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie. (Foto: Twitter)

Die departement van minerale hulpbronne en energie het besluit om nié teen die hooggeregshof se onlangse uitspraak met betrekking tot die mynbouhandves te appelleer nie.

Dít nadat die hooggeregshof sekere klousules van die mynbouhandves ter syde gestel het.

Die eens-bemagtig-altyd-bemagtig-beginsel sal nou aanvaar en die handves as ondergeskikte wetgewing geag word. Die meeste klousules in die handves sal gevolglik nie afdwingbaar wees nie.

Solidariteit, een van die respondente in die saak, het die departement se besluit verwelkom.

“Ons is verheug oor die besluit, veral weens die regsekerheid wat dit bring. Ons glo dat dit tot groter belegging in die mynbousektor gaan lei, wat nodig sal wees vir die skep van werksgeleenthede in die hoofstroom-ekonomie,” het Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, Dinsdag gesê.

Du Plessis voer aan hoewel die hofuitspraak en die departement se besluit as ʼn oorwinning vir die Mineraleraad van Suid-Afrika geag kan word, moet daar steeds in gedagte gehou word dat die grootste verloorders die werkers is wat hul reg op 5%-aandeelhouding verloor.

Die draende belang van 5% sou die oorwegend waardelose werknemer-aandeelhoudingskema (ESOP) vervang het.

“Ons is vasbeslote om die belange van ons lede deurentyd te beskerm. Dit beteken nou dat die kwessie rakende werknemer-aandeelhouding tydens loononderhandelings sterker deur ons en ander vakbonde gedryf sal word om sodoende te verseker dat ons lede steeds kry wat hulle toekom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

casper ·

Daar kom wel weer ‘n nuwe geld stroper wet teen die maatskappye net om almal te wys hulle is baas !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.