Dept. het ‘beheer verloor’ oor grondhervorming

(Foto: LNR/Facebook)

Die stryd om die toewysing van ʼn staatsplaas aan ʼn bruin opkomende boer in die Wes-Kaap woed ongebreideld voort.

Ivan Cloete, ʼn bruin boer, is onlangs van die plaas Colenso in die Darling-distrik afgeskop. Hy is nou al jare lank met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling in ʼn stryd gewikkel om grond te kry waarop hy permanent kan boer.

Mcebisi Skwatsha, adjunkminister van die departement, het Vrydag in ʼn onderhoud op SAfm toegegee dat die plaas aan ʼn groep militêre veterane toegeken is. Cloete is self ʼn veteraan en het ook aan die proses deelgeneem om ʼn huurooreenkoms vir die plaas te ontvang, maar is oënskynlik afgekeur.

“Ons kan bevestig dat ons ʼn wetlike verpligting het om ʼn plaas aan mnr. Cloete te voorsien; ons moet dit doen. Ons moet vasstel hoe ons hom op dié plaas kan hou, of op ʼn ander soortgelyke plaas,” het Skwatsha gesê.

Cloete het vantevore ook op die plaas Gelukwaarts geboer, eiendom wat die departement van ʼn private eienaar aangekoop het. Skwatsha sê die departement het eers ná die onderhandeling vasgestel die vorige eienaar het ʼn kontrak met ʼn huurder aangegaan en dié vrou boer steeds op die plaas. Die departement laat haar ook toe om dit te doen.

Cloete kon dus weereens nie sy boerdery daar voortsit nie.

Skwatsha sê volgens Cloete het hy Gelukwaarts verlaat omdat hy vir sy lewe gevrees het. Hy is daarna na Colenso en die departement het ingestem dat hy daar boer.

Nou is die plaas oënskynlik weer onder hom uitverhuur.

Die adjunkminister sê egter die ondersoek na die verloop van gebeure en die besluit om die plaas aan iemand anders as Cloete toe te ken, duur voort.

Annette Steyn, die DA se woordvoerder oor landbou, sê die proses is ʼn gemors en het Skwatsha se antwoorde op vrae oor die kwessie as teleurstellend bestempel.

Sy sê die departement moet intussen alle hangende uitsettings teen boere ondersoek en opskort.

Steyn sê Skwatsha het erken die departement het moontlik die huurooreenkoms wat hy met Cloete gehad het, verontagsaam en geen rede verskaf waarom hy nuwe aansoeke vir die plaas oopgestel het terwyl daar reeds ʼn huurooreenkoms vir die eiendom aangegaan is nie.

“Deur die bepalings van die huurooreenkoms met Cloete te skend, het die proses wat die departement gevolg het om die plaas aan nuwe bewoners toe te wys, prosedureel en administratief foutief geword en kan dus nie afgedwing word nie,” sê sy.

“Wat duidelik is, is dat die departement beheer oor die grondhervormingsproses verloor het aan nie-aanspreeklike amptenare wat nou uitsettingsbevele uitreik sonder inagneming van regspleging en die regte van die geraakte boere.”

Steyn sê toe Cloete van Gelukwaarts na Colenso geskuif het, is daar by ʼn vergadering tussen amptenare beslis dat die besluit geneem is om ʼn dispuut te skik. Ingevolge die skikking sou daar nie ʼn verdere keuringsproses vir Cloete nodig wees nie.

“Die departement se skielike u-draai en poging om hom nou uit die ooreenkoms met Cloete te wikkel, grens aan onwettig en maak ʼn bespotting van regverdige grondhervorming.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

SomeOne ·

geen een van die “re gering, se wette is meer geldig nie, zoema, cloete, alles wat “our people” aan raak, is minagtend van enige reel

Misky ·

As daar reels gevolg word en alles wettig op n ordentlike computer stelsel gedoen word, sou dit dadelik opgekom het dat die plaas reeds aan iemand “behoort”. Sulke glipsies kan mos nie sommer net gebeur as alles reg en wettig gedoen word nie

Werner ·

Die regering verloor beheer oor die land.Ons het nie veiligheids magte om die anargie wat kom te beheer nie.

BoepensVark ·

As Suid Afrikaners moes ons al lankal die Internasionale gemeenskap en howe genader het oor die ongeregtighede wat in ons land plaasvind. Ons kan leer uit die ANC se boekie wat in die apartheids jare ‘n teenwoordigheid in die buitland geskep het en sodoende druk op die internasionale gemeenskap gesit het. Suid Afrikaners moet saamstaan en die terroris organisasies tot hul knieë bring.
Die regering het geen manier om enige misdade wat direk met die Grondwet bots te bekamp nie want die politieke druk op hulle is te groot. Die regerende party weet dat indien hulle sou optree teen sulke dade die EFF die geleentheid sal werf om hulle populistiese agendas te dryf en die ANC sal al hoe meer stuun verloor.

Persheks Adri ·

Hulle verloor beheer oor alles gggmmmfff, want gaan kyk hoe redeneer hulle. Beter idee: skraap die hele wet en laat hulle werk soos ons vir wat ons besit regtig!

Jacobus ·

Die storie kan nie eers begin sonder ordentlike data. Dan beplanning -: die eindresultaat is ‘n “free for all” wat sonder twyfel tot ernstige konflik kan lei. Grond is nie ‘n lucky packets wat jy kan uitkies van ‘n rak af nie. Daar is meer grond beskikbaar as wat gebruik kan word. Wat wel die probleem is, is klewerige hande wat wil “pick and choose”.

Baardman ·

Die hele regering het beheer verloor
Misdadigers is besig om beheer oor te neem want Cyril is ruggraatloos.

KB ·

Was hulle al ooit “in beheer”? Diktatories ja, maar in beheer (?)…nog nooit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.