Dept. ontken spesiale badkamer vir Oscar Pistorius

Oscar Pistorius tydens verlede week se hofverrigtinge. Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool

Oscar Pistorius tydens verlede week se hofverrigtinge. Foto: Siphiwe Sibeko/Reuters/Pool

Die departement van korrektiewe dienste het Sondag ontken dat daar ʼn spesiale badkamer vir Oscar Pistorius gebou word in die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria.

“Die beplanning en bou van die badkamer en ander algemene instandhouding deur RC Civils-kontrakteurs het ʼn lang tyd gelede al begin,” het Manelisi Wolela, woordvoerder van die departement, gesê. “Dit is deel van ʼn drie jaar herstel- en instandhoudingsprogram en was veronderstel om al op 31 Mei 2014 klaar te wees – maande voor Oscar skuldig bevind is.”

Volgens Wolela maak Pistorius van ʼn gemeenskaplike badkamer gebruik. City Press het Sondag berig dat die tronkowerhede alles in hulle mag doen om te verseker dat Pistorius goed versorg word terwyl hy in die tronk is.

City Press het ook berig dat Pistorius na die tronk se B-seksie naby die hospitaalvleuel geskuif is. Die Tsjeggiese voortvlugtige Radovan Krejcir is glo een van Pistorius se bure. Volgens die berig het Krejcir glo sy eie televisie met DStv in sy sel.

Pistorius is van sy vorige sel in die EF-seksie verskuif nadat die selle oorstroom het. Dit was glo die werk van Etienne Kabila, wat verhoorafwagtend is nadat hy glo sy halfbroer pres. Joseph Kabila van die DRK probeer omverwerp het.

Wolela het bevestig dat Krejcir ʼn televisie in sy sel het. “Krejcir het toegang tot ʼn televisie maar het nie DStv nie. Etienne Kabila is deel van 20 DRK-gevangenes wat in aanhouding is. Wat hy gedoen het, is ‘n ou truuk deur gevangenes, om krane oop te maak en ʼn oorstroming te veroorsaak. Hy was berispe en is tans saam met ander gevangenes,” het Wolela gesê.

Pistorius is op 21 Oktober tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat hy aan strafbare manslag skuldig bevind is. Pistorius het sy vriendin, Reeva Steenkamp, op 14 Februarie 2013 doodgeskiet. Die staat het vroeër die week sy aansoek om verlof tot appèl ingedien. Die staat wil teen Pistorius se skuldigbevinding en vonnis appelleer. Pistorius se regspan het aangedui dat hulle die aansoek gaan teenstaan.

Klik hier om alle vorige berigte te lees wat met die hofsaak verband hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

jakoos ·

Is dit City Press of Rapport wat die goed oor OP berig het? Of dalk albei?

Maar kyk ‘n mens na Naspers se webblad is daar steeds net die berig wat dan volgens die gevangenisowerheid verkeerd sou wees – nie ‘n woord van die owerhede se weerlegging nie.
Maar dan kan hulle volumes kwytraak oor die gebrek aan “etiek:” van mense soos Hofmeyr of Zuma of enigeen van wie hulle nie hou nie.

alet ·

Souwat as hulle vir hom n badk bou sou julle wat alryd net wil oordeel nie bly wees .Hoekom altyd mense afkraak haal eers die splinter uit jou oog voor jy na ander kyk .Waarom het die mensdom so verlaag. Kry julle lekker

Lynni ·

Hoekom moet alle boedels, veilings ens net in Naspers koerante verskyn. Almal van afrikaanse mense. Ek sien geen Xhosa boedels. Ooreenkoms van apartheidstydperk? Siende dat hul so in ander mense se sake krap.

SNEL ·

Aarde, kan die man nou nie eers die “troon” gebruik sonder dat daar n bohaai oor gemaak word nie. Die Oscar-saak is soos n vuurtjie wat deur enige simpel geringe nuus aan die gang gehou moet word. Los hom nou uit en stop die aanhoudende geklik oor hom, niks gaan jul koerantverkope met sy naam op deur die dak laat skiet nie. Volgende kry hy spesiale kos en dan gaan ons lees wie hom almal al besoek het en dan is dit n kamma siekte wat n geheimsinnige dokter inderhaas moes tronk toe laat jaag en hy is nou in afsonderring en so gaan dit aan. Kan julle hom nou nie eers in die tronk in vrede laat nie?

Iris ·

Sjoe die mensdom is maar lekker deur mekaar. Se nou net dit was anders om gewees. Reeva skiet Oscar. Sou die regering vir hom n staats begrafnis gegee het? Mmmmm. Laat mens dink. Sou hy ook as n ikoon van sport herken word? So baie vrae en so min antw, maar ja wat wat verby is is verby.

charmaine ·

Dis waar: “wat verby is, is verby” hy is ‘n krimineel met die nodige dokumente om dit te bewys. Nou hoekom kry hy voorkeurbehandeling en ander gestremde misdadigers word tussen gewone gevangenes saamgebondel in een sel tot 120 in ‘n sel wat net vir 40 gevangenes bedoel is? Die Boeremaglede is sumier tussen die ander gevangenes ingesmyt en aan hul beddens vasgeboei, hul oortredings was ook polities maar swart politieke gevangenes word in enkelselle aangehou met hul eie badkamers?

Ghost ·

Stem saam, wat verby is is verby, maar dan moet almal die selfde behandeling kry. Mens kan nie een voortrek en n ander straf nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.