Dept. ontken spesiale behandeling vir Oscar, Krejcir

‘n Video volg onderaan die berig.

'n Skermskoot uit die video.

‘n Skermskoot uit die video.

Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het Woensdag ontken dat Oscar Pistorius en Radovan Krejcir “koninklike behandeling” in die tronk ontvang.

“Die DKD wil dit graag duidelik maak dat die berig in die Daily Sun dat twee gevangenes ‘soos koninklikes’ behandel word, vals en misleidend is. Hulle ontvang nie spesiale behandeling nie,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

Die Daily Sun het ʼn video op YouTube gelaai wat glo wys hoe Pistorius en Krejcir sonder oorpakke sokker speel in ʼn binnehof van die Kgosi Mampuru II-tronk in Pretoria.

Volgens die departement maak die Wet op Korrektiewe Dienste voorsiening vir beide gevonnisde gevangenes en dié wat aangehou word om een uur per dag te oefen. “Gevonnisde gevangenes mag hul oefenklere aantrek tydens oefeningstye.”

Volgens die Daily Sun is ander gevangenes kwaad aangesien hulle van mening is dat Pistorius en Krejcir voorkeurbehandeling kry en dat dit eerder lyk of hulle ‘n vakansiekamp bywoon.

Die DKD het gesê die berig is misleidend en het ʼn beroep gedoen op die media om nie op “onetiese wyse” inligting te bekom nie. “Die DKD is bewus van beamptes wat misleidende inligting aan die media verskaf oor Pistorius en Krejcir.”

Pistorius is op 21 Oktober tot vyf jaar tronkstraf gevonnis nadat hy aan strafbare manslag skuldig bevind is. Krejcir staan tereg op verskeie aanklagte, waaronder moord en ontvoering.

http://youtu.be/faWxQnLhqp4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jeanetta Taljaard ·

En net sodra daar geen ordentlike nuus is oor wat alles in die land aangaan nie, dan word die Oscar kaart gespeel. Dit is al so afgesaag en wat de hel het ‘n sokker bal skop met koninklike behandeling te doen. Daar vind daagliks moord, roof, verkragtings, diefstal, kapings, ens plaas, maar jy sien geen misdaad in die koerante nie, maar Oscar wat ‘n verdomde bal skop is NUUS. Ek wens ons kan weer ordentlike joernaliste in hierdie land kry wat oor NUUS kan berig en nie ‘n klomp snert nie. Geen wonder dat die mense in SA met blinders rondloop en dink alles is 100% in ons land nie. Daar is geen ordentlike beriggewing meer nie, net ‘n klomp snert wat deur luigat joernaliste, wat net agter ‘n lessenaar wil sit, opgedis word.

CHRISTA ·

Ek het geen ooghare vir Oscar nie, maar wat van Zuma se groot pel wat kamma sterwend was en toe op parool uitgelaat is en nou voer HY ‘N KONINKLIKE LEWE!!! Praat van diskriminasie!!!

Annerie ·

Vir maande lank het mense op al wat ‘n nuusberig is, kommentaar gelewer oor Oscar. Almal kon nie wag vir hom om tronk toe te gaan nie. Nou is hy in die tronk en nou kan niemand hom uitlos nie. Mense wil nou hê hy moet ly. Los hom as hy wil sokker speel in die tronk. Fokus eerder op wat gedoen gaan word aan ou stortkop en die feit dat hy vierde beste betaalde leier is ter wêreld.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.