Die verslag wat deur die Staatsdienskommissie opgestel is, het onder meer bevind dat daar elke naweek minstens een pasiënt by die Ellisras-hospitaal sterf weens ʼn tekort aan ventilators vir ongelukslagoffers.
“Volgens ons inligting is die ventilator by die Ellisras-hospitaal se teater ten volle operasioneel,” het Macks Lesufi, woordvoerder van die departement, aan die koerant gesê. Volgens Lesufi is die “aanname” dat pasiënte gesterf het as gevolg van probleme met ventilators dus “verkeerd.”
Die verslag het ook bevind dat personeel by die Messina-hospitaal Cyotec steel. Cyotec word tydens aborsies gebruik en om die kraamposes aan te help. Die personeel verkoop dit glo aan derdepartye.
Daar is ook bevind dat geestesongestelde pasiënte by dieselfde hospitaal met handboeie vasgemaak word weens ʼn tekort aan kalmeermiddels.
Die verslag is saamgestel na geskeduleerde en impromptu besoeke wat in April verlede jaar plaasgevind het.
Volgens Lesufi sou die sentrale versendingsentrum agtergekom het indien daar diefstal was van medisyne. “Ondanks die feit dat daar geen aanduidings was van enige ongewone aktiwiteite by die Messina-hospitaal nie, sal die bewerings ondersoek word.”