Dept. reageer op sluiting van kriminele rekordsentrum

Die kriminele rekordsentrum in Pretoria (Foto: Facebook / CouncilAssist for Educators)

Die verhuurder wat in Pretoria talle geboue waar regeringsdepartemente gehuisves word, gesluit het, het dit onwettig gedoen aangesien geen hofbevel in die verband verkry is nie.

Volgens die departement van openbare werke en infrastruktuur is dié onwettige optrede eerder ’n poging om af te wyk van die bewyse van oorbetalings wat die departement aan verskeie verhuurders voorgelê het en besig is om op te los.

Een van die geboue wat gesluit is, is die gebou waarin die kriminele rekordsentrum in Francis Baardstraat in die Pretoriase middestad gehuisves word. Aansoekers en koeriers het die week voor dooiemansdeur te staan gekom en kon nie klaringsertifikate by die sentrum afhaal nie.

“Terwyl die meeste verhuurders te goeder trou saam met die departement werk om hierdie probleme reg te stel, het een verhuurder in Pretoria oneties opgetree deur geboue wat verskeie staatsdepartemente en instellings huisves, te sluit,” het die departement in ’n verklaring gesê.

Die departement huur 17 geboue by die betrokke verhuurder vir ses departemente, waaronder die nasionale tesourie, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die departement van water en sanitasie, die departement van hoër onderwys, die departement van justisie en die departement van verdediging.

Die departement huur talle geboue in Pretoria waar staatsdepartemente en -instellings gehuisves word. Daar is in 2019 reeds met ’n proses deur die departement begin om sy huurkontrakte te hersien in ’n poging om te kyk of te veel huur betaal word.

Daar is onder meer bevind dat talle verhuurders te veel betaal word en dat die prys per vierkante meter in sommige gevalle ver bo markkoerse opgeblaas is en in ander gevalle is fakture meer as een keer ingedien.

Die departement het hierdie bewyse gebruik om laer huurgeld te beding in ooreenstemming met die huidige bedryfstandaarde en daar is in Desember ’n ooreenkoms oor nuwe tariewe met die meeste eienaars en verhuurders bereik en nuwe huurooreenkomste is onderteken.

“Ons het met verhuurders vergader wat die departement se betalingsrekords betwis en aan hierdie verhuurders kennis gegee dat ons vorentoe sal ophou om huur te betaal, deur die voorskot (historiese oorbetaling) wat reeds by die maatskappye is, te gebruik om die oorbetalings reg te stel. Een verhuurder in Tshwane wat te veel betaal is, het egter nie die ooreenkoms wat die departement ter tafel gelê het, aanvaar nie.”

Volgens die departement het hy steeds die situasie probeer bemiddel, maar kon ’n ooreenkoms egter nie bereik word nie en is daar nie huur betaal nie, waarna die verhuurder van die geboue gesluit het.

“Dit is belangrik om daarop te let dat die sluiting van die geboue en die uitsluiting van ons huurders onwettig is aangesien geen hofbevel vir hierdie optrede toegestaan is nie. Deur die verhuurder se konsultant het daaropvolgende onderhandelinge met die departement gelei tot ’n verbintenis van die konsultant om die geboue oop te stel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Francois ·

Die kaders wil mos als verniet he. Wil vir niks betaal. Die oomblik toe hulle ophou betaal het was dit die huurder se reg om als te sluit

Blikkies ·

Ek glo nie die eienaar sal net een oggend opstaan en besluit ek sluit nou my gebou nie, daar moes verseker baie dialoog plaasgevind het. As jy nie meer jou huur kan bekostig nie kry jy mos nou ‘n ander plek. Wys net, Die staat is ook maar Plakkers en eien hulle die reg toe. Geen wonder mense loop plak net waar hulle wil en jy kry hulle nie weg nie. ANC SAPS julle stel n baie goeie voorbeeld vir julle mense.

Charl ·

Ek sou hulle ook uitgegooi het, wil mos alles net verniet he !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.