Dept. teiken glo steeds Gauteng-skole ondanks hofbevel

skool

Argieffoto

Fedsas het Dinsdag gesê hy sal bewerings ondersoek dat die Gauteng-onderwysdepartement skole nou selektief teiken nadat die hof verlede week beslis het skole se taal- en toelatingsbeleid moet in ag geneem word.

Die hooggeregshof in Johannesburg het verlede week gelas dat skole se taal- en toelatingsbeleid in ag geneem moet word wanneer daar oor die toelating van leerders vir 2016 besluit word. Dit volg nadat die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) ʼn dringende hofaansoek ingedien het om die departement se gesentraliseerde toelatingsproses en sy plan om enkelmediumskole na parallelmediumskole om te skakel, te keer.

Volgens Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas, word daar nou ʼn ondersoek ingestel nadat dit glo aan die lig gekom het dat onderwysamptenare die bepalings van verlede week se dringende hofbevel ignoreer.

“Dreigemente van oudits van die personeel- en leerdersamestelling van sommige skole in Gauteng word ondersoek. Sommige skole word ook gedwing om die oorspronklike aansoekvorms vir 2016-toelatings aan die departement te oorhandig,” het Colditz gesê.

Hy het gesê onderwysamptenare voer na bewering aan die doel hiervan is om die sogenaamde e-platform-databasis op datum te hou. “Indien dit wel die enigste rede is, het Fedsas nie ’n probleem daarmee dat afskrifte van die aansoeke verskaf word nie. Skole is egter geregtig op hierdie vorms aangesien skole se A- en B-waglyste hiervolgens opgestel word, soos deur die hof beveel,” het hy gesê.

Colditz het beklemtoon dat die saak nie oor taal of ras gaan nie en dat die organisasie hom beywer vir die toerus van skoolbeheerliggame soos bepaal deur die Suid-Afrikaanse Skolewet. “In hierdie spesifieke geval word meestal Afrikaanse skole op die oog af geteiken en gevolglik tree Fedsas namens hierdie lede op. Die organisasie het egter ’n trotse rekord van die toerus van die volle spektrum van diversiteit in Suid-Afrika,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

anet ·

Die onderwysamptenare is maar weereens ‘n bewys van swak gedrag en geen leierskap nie.
Ek verwys na ‘n artikel oor waar die kinders nie eers stoele het om op te sit nie. Die amptenare moet liewer hulle energie fokus om huidige skole se standaard op te hef, in plaas van ‘n heksejag oor taal en ras.

Theresa ·

Hulle steur hulle aan niks. Nie eers die hoogste Hof nie. Hulle doen net wat hulle wil en niemand keer hulle nie………………………………..

Peet Schabort ·

Enkele aanhalings uit “VOORUITGANG” van JAN WAT VERSIES MAAK:

Engels ! Engels ! alles Engels ! Engels wat jij siet en hoor;
In ons SKOLE, in ons kerke, word ons moedertaal vermoor.
Wie hom nie lat anglisere word geskolde en gesmaad.
Tot in Vrijstaat en Transvaalal, oweral dieselfde kwaad.
“Dis vooruigang !” roep de skreeuwers, “dis beskawing wat nou kom !”.
Die wat dit nie wil gelowe, die is ouderwets en dom.
Die voor taal en ouwe sede in die bres spring, is ‘n dwaas,
“Leer mar Engels, dit maak salig !” skree hul uit met groot geraas.
SKOLE, waar ons seuns en dogters word verbaster, en geleer
‘English History, English Grammar’ net so veul jou hart begeer.
Net so lank as Afrikaanders nie eendragtig, needrig vraag
Dat hul taal erkend mag worde, sal hul bij ‘n dowe klaag.
Koud word vrinde en betrekkings, ‘oom’ en ‘neef’ is nou “meneer”;
‘Tante’ en ‘nig’ is “Miss” of “Mrs., alles koud nes wintersweer.
Selfs ons kinders, as hul weer kom, van die SKOLE, ag hoe koud;
Hoog van oog, vol selfverbeelding, stug en stijf as stukke hout.
‘English novels, English journals’, daarme word die tijd verkwis,
En so menig arme ouwer, weet nie dat daar ‘gif’ in is.
Die is blij, roem bij sijn bure, dat sijn kind so baing lees;
Wis hij wat ! sijn grote blijdskap die sou spoedig droefheid wees.
Dan die modes: al die klere, strikkies, lintjies, wat nie al ?
En die huisraad moet verander, wat nou ‘Susan’ nie beval.
Pa is wijn- of vee- of graanboer, mar sijn dogter is beskaam
As sij daar soms na gevraag word — ‘boer’ is tog so’n lage naam !
En ‘n boer het harde hande en draag groffe klere oek;
In haar oog is pa maar sondig, daar hij wijndrink en oek rook.
Liewer siet sij fijne handjies so as die studentjies het.
As sij een siet, word haar mondjie in die regte plooi geset.
Boerevrouw, oh, fie ! hoe lelik ! predikantsvrouw, ja, dit sal
Sij seker nog eens worde, ‘boere’ kan haar nie beval.

(Daar is dan ‘n gedeelte wat handel oor die anneksasie van Transvaal.)
Dan sluit ek af met:
Daarom is die annexasie in hul oog ‘n segen, ja,
En getuig van Englands liefde ver die deel van Afrika !
En wat Afrikaans of Hollans praat en as sijn taal begeer,
Die is dwaas, ‘n arme sukkel, vreeslik dom en ongeleer !
En as hij van reg durf prate, word eenvoudig dit geseg:
“Jou remoer en oproermaker, weet jij dan nie “MAG IS REG !”

Aangehaal uit: “Vijftig Uitgesogte AFRIKAANSE GEDIGTE (met prentjes). Versameld deur F.W. REITZ. (Hoofregter in d’Oranje Vrijstaat)”.
Gedruk 1888 deur “ARGUS” DRUKKERS, EN UITGEVERS MAATSKAPPIJ (BEPERKT).
————————————————————————————————————–
Nog in ‘n mate steeds waar behalwe dat die vyand nou verander het in die vorm van die ANC.

neelsie ·

Waarom sal die Anc die hofbevel gehoorsaam? Die president doen dit dan nie.
Wat is hulle nalatingskap…bedrog, onbetroubaar, ongehoorsaam., die rekenaar te klein vir al die byvoeglike naamwoorde.
Fedsas ons ondersteun jou met alles.

Vixie ·

Dit is vir my baie interessant dat slegs Afrikaanse skole geteiken word. Daar is die Duitse Skool in die Ooste van Pretoria naby Mamelodi. Word hulle ook geboelie om leerlinge in te neem wat nie Duits kan praat nie en word daar van hulle verwag om hul reels en regulasies aan te pas, maw ‘n dubbel medium skool te word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.