Derby-Lewis: “Aanvaller wat Oscar dreig is nóg ʼn sensasie-soeker”

Clive Derby-Lewis Foto: news.howzit.msn.com

Clive Derby-Lewis Foto: news.howzit.msn.com

Clive Derby-Lewis, wat Sondag vir die tweede keer in aanhouding by die Kgosi Mapuru-gevangenis in Pretoria met ʼn skerp voorwerp aangeval is, het Maandag gesê sy aanvaller is net nog ʼn sensasie-soeker.

Marius Coertze, Derby-Lewis se regsverteenwoordiger, het aan Maroela Media gesê hy het met Derby-Lewis uit die gevangenis gepraat en hulle weet nog nie wat die ware motief vir die aanval was nie. Hy het ook gesê Derby-Lewis is nie Maandagoggend na ʼn privaathospitaal in Pretoria geneem, soos wat die Gautengse departement van korrektiewe dienste (DKD) belowe het nie. Lees meer hier.

“Die DKD het gesê hulle sou hom 11:00 by die hospitaal hê, maar teen 13:30 was hy nog steeds nie daar nie,” het Coertze gesê.

Manelisi Wolela, ʼn woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie. Hy het vroeër aan die media gesê dat die aanval behoorlik ondersoek sal word. Wolela het bygevoeg die DKD gaan probeer om Derby-Lewis na ʼn privaatsel oor te plaas hangende die uitkoms van die ondersoek.

Derby-Lewis (78) en die sluipmoordenaar Janusz Walus is op 26 Februarie ook in die gevangenis aangeval. ʼn Mede-gevangene, Khalil Subjee 9470, het Derby-Lewis met ʼn skerpgemaakte lepel aangeval.

Subjee is na bewering die “generaal” van die gevreesde 26-bende. Subjee het tydens ʼn onderhoud met Pretoria News ʼn waarskuwing aan die Paralimpiese atleet, Oscar Pistorius, gerig, indien Pistorius skuldig bevind word en tronkstraf opgelê word. “Enigiemand wat dink hulle kan hier instap en soos ʼn koning lewe, se lewe sal geteiken word,” het Subjee gesê. Pistorius staan tans tereg op aanklag van moord op die model Reeva Steenkamp.

Maroela Media het na die eerste aanval op Derby-Lewis en Walus berig dit hou glo verband met die sogenaamde Waterkloof-twee, Christoff Becker en Frikkie du Preez. Subjee het glo ʼn wrok gekoester teen Becker en Du Preez na aanleiding van ʼn video wat wys hoe die twee partytjie hou in ʼn tronksel by dieselfde gevangenis. Dit het tot ʼn klopjag gelei van ander gevangenes se selle en daar is glo beslag gelê op die beweerde aanvaller se selfoon en ander items wat hy glo ingesmokkel het. Subjee het Derby-Lewis en Walus glo aangeval in ʼn poging om na ʼn afsonderingsel geskuif te word sodat hy naby aan Becker en Du Preez sou wees.

Subjee het reeds in die gevangenis se hof verskyn in verband met die eerste aanval en gesê hy wil skuld beken. Die saak is tans uitgestel. Dit is nie bekend of Subjee of sy bende in die jongste voorval betrokke was nie.

Derby-Lewis is in 1993 tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir sy rol in die moord op Hani. Hy het ʼn vuurwapen gereël vir Walus, wat tans dieselfde vonnis uitdien. Altwee is aanvanklik doodstraf opgelê, maar dit is tot lewenslange tronkstraf verander toe die doodstraf in Suid-Afrika afgeskaf is.

Lees ook:
DKD ontken Derby-Lewis-berig
Hof las dat Derby-Lewis na hospitaal oorgeplaas word
Aanval op Derby-Lewis glo te doen met Waterkloof-2
Derby-Lewis en Walus sterk in hospitaal aan
DKD bevestig aanval op Derby-Lewis en Walus
Clive Derby-Lewis en Janusz-Walus glo in tronk aangeval

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rentia ·

Ironies dat die skurk slegs blanke gevangenisse uitsonder. Skandalig ook dat Clive Derby-Lewis nog nie mediese behandeling ontvang het soos belowe nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.