Derby-Lewis glo nie betrokke by Christoff Becker-afpersing

Christoff Becker in 'n skermskoot uit die YouTube-video wat uitgelek is

Christoff Becker in ‘n skermskoot uit die YouTube-video wat uitgelek is

Die veroordeelde Clive Derby-Lewis het niks te doen met ʼn afpersingsaak in die gevangenis nie, het sy prokureur Donderdag gesê.

“Ek dink die ondersoekbeampte is tevrede dat Clive niks daarmee te doen gehad het nie,” het Marius Coertze aan Sapa gesê.

Die saak handel oor ʼn gevangene en ʼn video op ʼn hardeskyf van een van die sogenaamde Waterkloof-4, Christoff Becker. Die gevangene het glo Becker se ma, Mariette, afgepers met beeldmateriaal van haar seun wat hom in die moeilikheid sou bring by die departement van korrektiewe dienste.

“Die beskuldigde gevangene het glo gesê hy is nie alleen skuldig nie, en het aangedui hy het die hardeskyf by Clive gekry,” het Coertze gesê. “Hy probeer Clive hierby betrek.”

Volgens Coertze sal Derby-Lewis moontlik as ʼn staatsgetuie geroep word in die uitbuitingsaak teen die gevangene, wie se naam nie bekend gemaak mag word nie.

Die Sowetan-koerant het berig dat die gevangene Woensdag in die landdroshof in Pretoria verskyn het op aanklag van uitbuiting en poging tot uitbuiting. Die saak is tot volgende maand uitgestel.

“Die enigste verbintenis wat Clive aan die saak het, is dat hy die hardeskyf óf aan die persoon verkoop óf dit geruil het,” het Coertze aan Sapa gesê. “Dit is sy enigste verbintenis aan die saak.”

Dit is nie duidelik wanneer die afpersing plaasgevind het nie. Coertze het gesê Derby-Lewis is al sedert Maart in die hospitaal.

Die gevangene (35) is glo besig om met die staat te onderhandel oor ʼn pleitooreenkoms, aldus die Sowetan. Hy dien tronkstraf uit by die Kgosi Mampuru-gevangenis nadat hy in 2008 skuldig bevind is op 32 aanklagte van diefstal en bedrog wat hy landswyd saam met ʼn vriendin gepleeg het.

Derby-Lewis en Becker het albei tronkstraf uitgedien by dieselfde gevangenis.

Beeld-koerant het in Junie berig ʼn man het R30 000 van Mariette Becker geëis, anders sal video’s van haar seun uitgelek word.

Becker en drie ander is in Februarie op parool vrygelaat nadat hulle ʼn hawelose man in 2001 in Pretoria doodgeslaan het. Becker en sy medebeskuldigde, Frikkie du Preez, is egter vyf dae later weer in hegtenis geneem nadat ʼn video aan die lig gekom het van die twee wat vermoedelik in die sel alkohol en ʼn selfoon gebruik. Die video is op YouTube gepubliseer. Dit is nie duidelik of dit dieselfde beeldmateriaal is wat die man Mariette mee wou afpers nie.

Die Pretoriase hooggeregshof het in Junie Becker se aansoek, dat sy parool weer ingestel moet word, van die hand gewys. Hy dien tans tronkstraf uit by Kokstad-gevangenis.

Derby-Lewis is skuldig bevind aan sameswering om SAKP-leier Chris Hani op 10 April 1993 dood te skiet. Hy het die vuurwapen aan die Poolse immigrant Janusz Walus verskaf om Hani in sy oprit by sy huis in Boksburg aan die Oos-Rand te vermoor. Die 78-jarige het al meer as 20 jaar van sy 25 jaar vonnis uitgedien. Hy is aanvanklik ter dood veroordeel, maar die vonnis is na lewenslank verander toe die doodstraf in 1995 afgeskaf is. Hy het in Junie 2010 vir die eerste keer aansoek gedoen om parool. Die departement van korrektiewe dienste het op 30 Junie 2014 aangedui hy sal dringend aandag skenk aan Derby-Lewis se aansoek om mediese parool.

Derby-Lewis se vrou, Gaye, het gesê die bewerings van uitbuiting teen haar man is nonsens. “Dit is twak. Die berig is nonsens,” het sy aan Sapa gesê. Sy wou nie verder kommentaar lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Trippie ·

Los Oom Clive asseblief nou uit in hierdie saak van Becker en die afperser. Ek kan eerlikwaar NIE GLO dat Oom Clive, in aggenome sy mediese toestand en sy gevorderde ouderdom, homself betrek by hierdie saak nie.

Ek bid steeds vir sy spoedige vrylating om aan te sluit by Tannie Gaye en geliefdes.

Lede van Front Nasionaal sou Saterdag, 26 deser by die Kunsmuseum bymekaar kom en daarna na die Uniegebou stap om ons Memorandum te oorhandig – die patetiese verskoning was dat “hulle” nie Saterdae werk nie !

Afrika tyd – more en oormore is nog ‘n dag.

Peter Says ·

Jislaaik, wat nog !!!! Gaan hulle probeer doen om n man wat sy prys deur en deur betaal het te diskrediteur ???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.