Derby-Lewis: Nóg betogings beplan ná DKD glo eise ignoreer

Clive Derby-Lewis Foto: news.howzit.msn.com

Clive Derby-Lewis Foto: news.howzit.msn.com

Front Nasionaal (FN) gaan ʼn derde protesaksie hou nadat eise, wat aan die departement van korrektiewe dienste (DRK) oor Clive Derby-Lewis (78) se vrylating op mediese parool gemaak is, glo onbeantwoord gebly het.

Wessel Basson, die party se ondervoorsitter van Gauteng, het in ʼn verklaring gesê beswaardes en gevolmagtigdes van die 5 645 lede van die party en afgevaardigdes van ander organisasies sal op 30 Mei opnuut saamtrek voor die kantoor van die DKD.

“Ons gaan eis dat ʼn datum bepaal word vir ʼn vergadering met die minister van korrektiewe dienste om die weg vorentoe te bespreek, of as alternatief, dat ‘n datum vir die vrylating van Derby-Lewis deur die minister bekend gemaak word voor of op 23 Junie,” het Basson gesê.

Die party en ander ondersteuners het op 12 April op Kerkplein in Pretoria vergader waarvandaan ‘n vreedsame protesoptog gehou is na die kantoor van die DKD. ‘n Petisie met die versoek om Derby-Lewis op mediese parool vry te laat is aan ʼn gevolmagtigde beampte van die departement oorhandig.

Volgens FN is die redes wat vir die versoek om vrylating van Derby-Lewis aangevoer is, dat:

  • hy alreeds effektief 21 jaar tronkstraf uitgedien het. In die Suid-Afrikaanse regskonteks word ʼn aaneenlopende gevangenisstraf van 15 jaar beskou as lank genoeg vir ʼn lewenslange gevangenisstraf;
  • hy mediese behandeling ontvang vir velkanker, longkanker, prostaatkanker, hoë bloeddruk en gangreen en dat hy gevolglik terminaal siek is;
  • hy reeds by twee geleenthede aangedui het dat hy begerig is om die weduwee van Chris Hani te ontmoet om persoonlik sy meegevoel en berou uit te spreek. Sy weier dit;
  • hy op 25 Februarie vanjaar deur ʼn medegevangene in die tronk aangeval is en met ʼn skerp voorwerp gesteek is. Dit is gevolg deur ‘n tweede aanval enkele dae later. Sodanige aanvalle kan dodelik wees vir ʼn terminaal siek en bejaarde man;
  • parool vir hom reeds in 2008 goedgekeur is, maar nooit uitgevoer is nie;
  • hy tans die oudste gevangene in Suid-Afrika is en waarskynlik ook die oudste in die wêreld; en
  • die Suid-Afrikaanse regering menseregte as hoeksteen van ʼn demokratiese bestel daargestel het. Die regering word aangemoedig om bewys te lewer daarvan dat die regte van burgers hulle erns is, ingevolge die reg tot humanitêre behandeling aan die hand van die Handves van Menseregte.

“In dié dokument is versoek dat die departement voor of op 2 Mei moes reageer,” het Basson verduidelik. “Geen reaksie is ontvang nie en daar is op 3 Mei ʼn verdere protesaksie gehou waartydens ʼn simboliese verbranding van die kommunistiese vlag plaasgevind het. Dit was ʼn teken van die erns waarmee hierdie saak deur die betogers beskou word en van die beswaar teen die DKD se gebrek aan samewerking, ten spyte van die onderneming wat mondeling gegee is op 12 April dat die aangeleentheid dringende aandag sal geniet.”

Hy het gesê ‘n verdere drie weke het verloop en nog steeds is geen reaksie ontvang nie.

Volgens Basson sal kranse tydens die volgende protesaksie in Kerkstraat gelê word ter herdenking aan die slagoffers van die motorbom wat op 20 Mei 1983 ontplof het, en die lewe van 19 mense geëis het. Die betoging op 30 Mei begin om 09:00 by die Kgosi Mampuru-gevangenis (Pretoria Sentraal-gevangenis) waar dit per konvooi sal vertrek na die DKD se kantoor waar die versoekskrif oorhandig sal word.

“Sou die DKD steeds versuim om met ons te kommunikeer of om die kwessie van Derby-Lewis se vrylating te prioritiseer, sal daar voortgegaan word om die internasionale media asook internasionale menseregte-organisasies en regerings te nader en sal verdere protesaksies landswyd gehou word,” het Basson bygevoeg.

Maroela Media wag vir kommentaar van DKD oor die aangeleentheid.

Lees ook:
Video: Party brand SAKP-vlag vir Derby-Lewis
Derby-Lewis se toestand bly onveranderd
Foto’s: “Laat Derby-Lewis vry”
Derby-Lewis nog net ʼn jaar oor om te leef; Steve betoog saam oor sy parool
Derby-Lewis het ‘lewensreddende operasie’ ondergaan
Derby-Lewis: DKD-beamptes het te stadig reageer
Derby-Lewis: Aanvaller wat Oscar dreig net nóg ‘n sensasie-soeker
Derby-Lewis weer in tronk aangeval
DKD ontken Derby-Lewis-berig
Hof las dat Derby-Lewis na hospitaal oorgeplaas word
Aanval op Derby-Lewis glo te doen met Waterkloof-2
Derby-Lewis en Walus sterk in hospitaal aan
DKD bevestig aanval op Derby-Lewis en Walus
Clive Derby-Lewis en Janusz-Walus glo in tronk aangeval

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Piet Greeff ·

Sterkte Front Nasionaal. Gaan in elkgeval voort met die voorneme om met internasionale media en internasionale menseregte-organisasies en regerings kontak te maak. Julle kan niks verloor nie.

Grassie ·

Suid-Afrika het die mees absurde en onverstaanbare stafstelsel in die sg. “beskaafde” wêreld. Mnr Darby-Lewis, wat in die jare van storm en drang gehelp het om ‘n vyand van sy volk te elimineer, word steeds aangehou onder onmenslike omstandighede. ‘n Ander mens – ek wil hom nie ‘n man noem nie – wat ‘n nagklub opgeblaas het waarin drie onskuldige wit vrouens dood en 69 mense beseer is, word beloon met ‘n senior regeringspos as hoof van die polisie se ondersoekdirektoraat.
Die huidige regering moet onthou – die Skepper se meule draai stadig, maar hy draai seker.

Theresa ·

Jip – En dan word alles voor ons gegooi as rasisme. Hierdie is uit en uit omgekeerde rasisme. Maar Shaik en die ander “comrades” loop buite rond. Soos ek verneem het was hulle besig om die aarde te verlaat. Dit word maar net oor en oor bewys……..hulle sal doen wat hulle wil en NIE wat reg en regverdig is nie. So gaan dit met alles vorentoe gaan.

Anne ·

Wie is sy in elk geval om te besluit oor sy lot, praat van haat! Wat van ons onskuldige mense wat op ‘n daaglikse basis gemoor word en nie eers die nuus haal nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.