Derby-Lewis nog net ʼn jaar oor om te leef; Steve betoog saam oor sy parool

Clive Derby-Lewis Foto: news.howzit.msn.com

Clive Derby-Lewis Foto: news.howzit.msn.com

Clive Derby-Lewis (78) is met longkanker gediagnoseer en het na verwagting nog net ʼn jaar oor om te leef.

Marius Coertze, Derby-Lewis se regsverteenwoordiger, het Vrydag aan Maroela Media gesê sy kliënt is gediagnoseer en word in ʼn privaathospitaal in Pretoria behandel. “Die spesialis wat hom behandel het gesê hy het nog net ongeveer ʼn jaar oor om te leef,” het Coertze gesê. “Die spesialis sê dat hy nie op Clive kan opereer om die kankergewas te verwyder nie, omdat die operasie meer kwaad as goed sal doen, weens Clive se ouderdom en dat sy liggaam te swak is.”

Volgens Coertze is Derby-Lewis se regterlong, wat tydens sy tweede aanval in die Kgosi Mampuru-Sentraal-gevangenis stukkend gesteek is en platgeval het, intussen tydens ʼn operasie geheg. Dit is dieselfde long waar die kankergewas is.

Coertze is besig met ʼn vierde aansoek om parool vir Derby-Lewis.

“Ons gaan môre [Saterdag] om 09:00 by Kerkplein in Pretoria bymekaarkom en daarvandaan ʼn optog hou tot by die gevangenis se parkeerterrein,” het Coertze bygevoeg. “Die departement van korrektiewe dienste (DKD) het reeds aangedui dat hulle ons nie gaan toelaat om die terrein te betree nie. Ons beplan om ʼn versoek oor Clive aan die hoof van die gevangenis te oorhandig.”

Coertze sê hy het Woensdag ook ʼn klag oor die DKD se gesloerdery met die paroolaansoek by die Openbare Beskermer, Thuli Mandonsela, se kantoor ingedien. “Ons het intussen ook ʼn skrywe aan die minister van die DKD gerig oor Clive se huidige gesondheidstoestand en die verwaarlosing van sy fisiese gesondheid wat kort-kort aan die lig kom. Ons het reeds twee keer sedert 2010 by wyse van ʼn aansoek aan die hooggeregshof ʼn hofbevel bekom om behoorlike mediese behandeling vir Clive te kry.”

Die sanger en aktivis Steve Hofmeyr het op Twitter aangedui dat hy saam met ander Afrikanerbelangegroepe vanaf Kerkplein tot die gevangenis gaan stap.

Derby-Lewis is in 1993 tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir sy rol in die moord op Chris Hani. Hy het ʼn vuurwapen gereël vir Janusz Walus, wat tans dieselfde vonnis uitdien. Al twee is aanvanklik die doodstraf opgelê, maar dit is tot lewenslange tronkstraf verander toe die doodstraf in Suid-Afrika afgeskaf is.

Lees ook:
Derby-Lewis het ‘lewensreddende operasie’ ondergaan
Derby-Lewis: DKD-beamptes het te stadig reageer
Derby-Lewis: Aanvaller wat Oscar dreig net nóg ‘n sensasie-soeker
Derby-Lewis weer in tronk aangeval
DKD ontken Derby-Lewis-berig
Hof las dat Derby-Lewis na hospitaal oorgeplaas word
Aanval op Derby-Lewis glo te doen met Waterkloof-2
Derby-Lewis en Walus sterk in hospitaal aan
DKD bevestig aanval op Derby-Lewis en Walus
Clive Derby-Lewis en Janusz-Walus glo in tronk aangeval

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Shannon ·

Steve, vra tog vir geagte Doktor Pieter Mulder van die VF+ of hy nie saam wil stap nie.

Mike ·

Waar’ is die groot afrikaner organisasies wat so roem op wat hulle doen vir die afrikaner se steun hieraan ek sien niks???? maar hulle wil ledegeld hê.

Veronica v Niewenhuizen ·

Die onreg hierdie man aangedoen is verskriklik!
Sterkte aan Mnr Derby-Lewis.
Mag die optog more gehou goeie vrugte afwerp.
Vir diegene wat dit moontlik is, woon asseblief die verrigtinge by.

Ronel Rossouw ·

Genoeg is genoeg, ons sal kom stap en net hoop en bid dit sal help!

rencha ·

Dink aan julle is tans nie in pretoria nie. Glo als sal uitwerk vir hom

david ras ·

Shannon, hoekom vra jy nie self vir Dr. Mulder daardie vraag nie ? Waarom moet Steve jou vuilwerk doen ?Terloops. loop jy ook saam–ek hoop so ! Jy het nou lank genoeg vanuit die politieke bossies na Dr, Mulder ge”snipe.”!.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.