Derby-Lewis ontken dat hy minister gaan dagvaar

Clive Derby-Lewis

Clive Derby-Lewis

Clive Derby-Lewis het Dinsdag bewerings ontken dat hy sy prokureur Marius Coertze versoek het om die minister van korrektiewe dienste te dagvaar vir R2 miljoen.

“Dit het nooit gebeur nie,” het Derby-Lewis in ʼn verklaring gesê. “Ek het hom nooit opdrag gegee om die minister of enigiemand anders by die departement te dagvaar nie.”

Derby-Lewis het gesê hy het ʼn e-pos aan minister Michael Masutha se woordvoerder gestuur om hom in kennis te stel dat hy nie die opdrag aan sy prokureur gegee het nie, en het om verskoning gevra oor die verkeerde inligting.

Coertze verteenwoordig sedert Sondag nie meer vir Derby-Lewis nie.

Derby-Lewis se vrou, Gaye, het gesê Julian Knight, wat vroeër die voormalige Vlakplaas-bevelvoerder Eugene de Kock verteenwoordig het, sal nou haar man verteenwoordig.

Masutha het Vrydag aangekondig dat Derby-Lewis se aansoek om mediese parool afgekeur is. De Kock se aansoek is goedgekeur. Alhoewel die mediese paroolraad aanbeveel het dat hy vrygelaat moet word, het Masutha sy kommer uitgespreek oor die mediese verslae. Hy het die paroolraad veroordeel dat die vrylating voorgestel word, aangesien Derby-Lewis slegs fase 3-longkanker het. Volgens wetgewing kwalifiseer slegs diegene met fase 4-longkanker.

Derby-Lewis het vermoedelik iemand anders se naam op sy mediese verslae gebruik.

Hy dien tronkstraf uit nadat hy die vuurwapen aan Janusz Walus, ʼn Poolse immigrant, verskaf het om die leier van die SAKP, Chris Hani, op 10 April 1993 dood te skiet. Hy is skuldig bevind aan moord en ter dood veroordeel, maar dit is na lewenslank verander toe Suid-Afrika die doodstraf afgeskaf het.

Masutha het ook gesê hy is nie oortuig dat Derby-Lewis ware berou toon nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dave ·

Dit is vir my interessant dat geen woord gerep word oor Janusz Walus. Geen nuussoeker doen enige moeite om hom te kuier nie en hy word blykaar geensins as nuuswaardig beskou. Hy weer probeer opsigtelik nie om vrygelaat te word en laat dit oor aan oom Clive.

JZ ·

Hoekom kry ek die gevoel dat ANC, De Kock half afpers daar hy hulle moet help met nog dinge??,eindelik lyk my hy is nie werklik vry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.