Derby-Lewis se toestand bly onveranderd

Clive Derby-Lewis Foto: news.howzit.msn.com

Clive Derby-Lewis Foto: news.howzit.msn.com

Clive Derby-Lewis (78), wat onlangs met longkanker gediagnoseer is en na verwagting nog net ʼn jaar oor het om te leef, se toestand is onveranderd en hy ontvang steeds behandeling by ʼn privaathospitaal in Pretoria.

Manelisi Wolela, ʼn woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het Dinsdag gesê daar is geen nuwe verwikkelings in Derby-Lewis se gesondheidtoestand nie.

Maroela Media het op 11 April berig dat hy met longkanker gediagnoseer is. Sy vrou, Gaye, het dit verlede Donderdag in ʼn verklaring bevestig. “Daar is ʼn kwaadaardige gewas in sy regterlong en hulle kan hom nie opereer nie omdat sy liggaam te swak is,” het sy toe gesê.

Sy het gesê Derby-Lewis gaan na verwagting nog tot Donderdag in die hospitaal behandeling ontvang. Hy is geskeduleer om op 6 Mei met chemoterapie en bestraling te begin.

Marius Coertze, Derby-Lewis se regsverteenwoordiger, gaan vandeesweek voort met ʼn vierde aansoek om hom op mediese parool uit aanhouding te kry. Honderde ondersteuners, asook die sanger en aktivis Steve Hofmeyr, het op 12 April na die Kgosi Mampuru Sentraal-gevangenis opgeruk om ʼn memorandum te oorhandig waarin aangedring word dat Derby-Lewis op mediese parool vrygelaat word.

Derby-Lewis is in 1993 tot 25 jaar tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in die moord op Chris Hani, SAKP-leier. Hy het ʼn vuurwapen gereël vir Janusz Walus, wat tans dieselfde vonnis uitdien. Al twee is aanvanklik die doodstraf opgelê, maar dit is tot lewenslange tronkstraf verander toe die doodstraf in Suid-Afrika afgeskaf is.

Bronne: SAPA / Maroela Media-verslaggewers

Lees ook:
Foto’s: “Laat Derby-Lewis vry”
Derby-Lewis nog net ʼn jaar oor om te leef; Steve betoog saam oor sy parool
Derby-Lewis het ‘lewensreddende operasie’ ondergaan
Derby-Lewis: DKD-beamptes het te stadig reageer
Derby-Lewis: Aanvaller wat Oscar dreig net nóg ‘n sensasie-soeker
Derby-Lewis weer in tronk aangeval
DKD ontken Derby-Lewis-berig
Hof las dat Derby-Lewis na hospitaal oorgeplaas word
Aanval op Derby-Lewis glo te doen met Waterkloof-2
Derby-Lewis en Walus sterk in hospitaal aan
DKD bevestig aanval op Derby-Lewis en Walus
Clive Derby-Lewis en Janusz-Walus glo in tronk aangeval

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ria Maritz ·

Marius Coetzer, baie dankie vir jou onbaatsugtige optrede teenoor Mnr en Mev Derby-Lewis. Dit gaan nie ongesiens verby.

My bede is dat oom Clive spoedig sal terugkeer na sy geliefde eggenote om sodoende ook sy laaste medies-gesproke maande saam met haar en familie deur te bring.

LAAT HOM VRY !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.