Derby-Lewis se vrou wil OB nader

Clive Derby-Lewis

Clive Derby-Lewis

Clive Derby-Lewis se vrou wil die openbare beskermer nader om die polisie en regeringsdepartemente te dwing om hulle werk te doen.

“Nee ek het nog nie klag gelê nie maar ek sal haar nader aangesien dit die openbare beskermer se werk is om seker te maak dat regeringsdepartement hulle werk doen,” het Gaye Derby-Lewis Maandag gesê.

Sy wil hê haar man moet op mediese parool vrygelaat word. “Indien dit misluk sal ons regsaksie neem teen die polisie. Niemand in Suid-Afrika is onaantasbaar nie en hulle moet dit leer.”

Gaye beweer dit is lede van die SAKP wat dit moeilik maak vir haar man om parool te kry. Volgens haar beweer SAKP-leiers dat haar man nie ‘n volle bekendmaking gedoen het tydens sy verhoor in 1993 nie. “As hulle in die openbaar beweer daar is ‘n wyer sameswering, dan is dit vanselfsprekend dat hulle die inligting aan die polisie moet oorhandig om hulle uitlatings te steun.”

Gaye sê hy het ‘n klag by die polisie aanhangig gemaak om te probeer uitvind hoekom lede van die SAKP haar man se aansoek om parool bly teenstaan. “Tot op datum het hulle nog niks gedoen nie. Hulle kom nie eers terug na my toe nie ondanks verskeie versoeke deur middel van oproepe, SMS’e en e-posse.”

Gaye sê sy vermoed die polisie is bang vir die SAKP. “Dit is duidelik dat selfs die SAPD bang is vir hierdie politieke onaantasbares wat die wet dikteer met betrekking tot Derby-Lewis, en wat hul agenda steun met gewelddadige betogings in die strate. Die SAKP is duidelik bang vir ‘n 78-jarige man.”

Die politieke party Front Nasionaal sê intussen dat Derby Lewis “positief” en in ‘n “goeie gemoedstemming” is. Verteenwoordigers van die party het Derby-Lewis die naweek in die Eugene Marais-hospitaal besoek.

“Derby-Lewis ontken nie sy skuld nie, maar voel dat hy sy straf uitgedien het. Hy verklaar sy geloof in God en ook dat hy God se wil sal aanvaar, maar dat hy baie graag nou huis toe wil gaan en vrede hé. Na afloop van die besoek het Derby-Lewis sy besoekers gevra om sy hartlike en opregte dank en groete oor te dra aan elke persoon en organisasie wat sy aansoek om vrylating steun en hy versoek dat die aksies om sy ontwil nie gestaak word nie,” het die party in verklaring gesê.

Derby-Lewis het reeds 20 jaar tronkstraf uitgedien vir sy aandeel in die moord op SAKP-leier Chris Hani. -Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Trippie ·

Tannie Gaye, ek admireer u deursettingsvermoë. Baie sterkte, ek glo Marius en Front Nasionaal sal u ook hiermee bystaan.

Oom Clive – hierdie stelling wat u gemaak het, spreek boekdele van die pragtige voorbeeld van ‘n Christenmens wat u is – en ek haal aan :

“Hy verklaar sy geloof in God en ook dat hy God se wil sal aanvaar, maar dat hy baie graag nou huis toe wil gaan en vrede hé.”

Ek, Johann, Grassie, en vele ander regoor die land, sowel as in die buiteland, bid sonder ophou vir u spoedige vrylating.

Dit moes ‘n wonderlike ervaring vir twee van FN se leiers gewees het om persoonlik met u te gesels in die hospitaal gedurende die naweek !

Kan enigiemand bevestig of Oom Clive gehospitaliseer word in die Eugene Marais Hospitaal, en of hy slegs behandeling aldaar ontvang ?

Johann ·

Aan die Derby-Lewis familie en almal betrokke wat vir die vrylatingsaak van mnr Derby-Lewis beywer.

Wees verseker, u het ‘n aktiewe biddende span waarvan Hy deel is. Dit sal volgens God se plan verloop. Welke berusting, opgewondenheid, kalmte, of wat ookal, wie weet. Onregverdigheid staan Hom nie aan nie.

Wee die met ‘n geheime agenda.

Sterkte.

Trippie ·

Johann, ek plaas hierdie kommentaar apart, aangesien vorige skrywes verwyder is.

Ek raak heeltemal bewoë telkens wanneer ek jou dierbare kommentaar lees.

In antwoord op jou skrywe – AMEN !

Johann ·

Trippie.

Jy mag maar bewoë raak, gebedsgenoot, want dit is die blydskap dat ons in Jesus Christus mekaar mag vashou en ondersteun.

Hy biggel ook ‘n traan van blydskap wanneer Hy sien daar is kommunikasie, vrede, ondersteuning en harmonie tussen Sy familielede.

Geniet Hom, want Hy is ons alles.

Grassie ·

Byt vas, vriend Clive, ons bid steeds vir jou en sal aanhou tot jy daar uitstap.

Trippie ·

JOHANN EN GRASSIE – ek deel hierdie graag met julle ! As ek oom Clive maar net ‘n opregte warm Boere-drukkie kon gee !

Willie Cloete en Wessel Basson van Front Nasionaal het op Sondag 22 Junie 2014 ‘n besoek gebring aan Clive Derby-Lewis in die Eugene Marais Hospitaal in Pretoria. Hiermee ‘n verslag van die besoek

Wanneer ‘n mens praat van ‘n politieke sluipmoordenaar, kry jy ‘n prentjie van ‘n forsgeboude ou met ‘n swart pak en swart hemp en swart das en duur swart Italiaanse skoene met so ‘n groot rewolwer agter ‘n groot knaldemper en ‘n vlieëniersonbril wat agter ‘n heining staan en wag vir sy slagoffer.
Die laaste ding wat ‘n mens eintlik verwag is ‘n opgewekte, 78 jarige man met ‘n netjies sout-en-pepersnor en vonkelende oë, ten spyte van sy swak gesondheidstoestand. Ewe onverwags is die gul verwelkoming in die hospitaalkamer. Daar is min teken daarvan dat ‘n mens op besoek is aan ‘n man wat 21 jaar laas die vrye lug ingeasem het. Hy gesels gemaklik met die bewaarders wat in die kamer saam met hom is, hoegenaamd nie asof hulle indringers in sy ruimte is nie en wanneer hulle later vir hom die Sondagkoerant bring, bedank hy dit hoflik en met ‘n lighartige toon in sy stem.
Clive ontken nie sy skuld nie. Hy erken prontuit dat hy aandadig was aan die beplanning van die sluipmoord op Chris Hani. Na ‘n oomblik se nadenke sê hy nogtans dat hy nou wil huistoe gaan. Hy het sy skuld afgelos, hy het betaal wat die staat van hom gevra het. Vir geen oomblik is daar enige teken van dat hy sy gesondheidstoestand probeer vooropstel om sy vrylating te propageer nie. Inteendeel, dit wil voorkom asof hy dit veel eerder maar beskou as een van die skete wat met die ouderdom kom.
Hy vertel van sy ervarings in die tronk. Staaltjie op staaltjie. Sonder bitterheid. Hy vertel hoe hy leiding geneem het om videovertonings te reël om die gevangenis met opbouende aktiwiteite besig te hou en hoedat die geweld in die tronk merkbaar afgeneem het. Hy vertel van die rekreasiekomitee wat hy in die lewe geroep het en waardeur hele familiegroepe gevangenes kon besoek en hoedat dit meegewerk het tot hulle rehabilitasie. Hy vertel van sy aandeel daarin om deur onderhandeling met die owerhede rekenaars te bekom vir gevangenes wat wil studeer en hoedat hy homself verdiep het in sy studie van volkerekunde.
Hy vertel met dringendheid, asof hy die besoek so lank as moontlik wil uitrek, asof daar nog baie is wat gesê moet word voordat die kort wintersdag om is. Asof, inderdaad, hy ‘n diepliggende sekuriteit vind in die teenwoordigheid van twee van sy eie mense uit die wêreld daarbuite. ‘n Wêreld waarheen hy nie vanaand kan saamgaan nie. Hy vertel haastig en met ‘n ondertoon van senuweeagtigheid. Hy is positief, hy bely sy geloof en vertel dat hy vrede gemaak het met sy God. Hy berus hom in die Wil van God, maar hy doen dit met die hoop dat dit God se Wil is dat hy nou mag huistoe gaan na sy mense toe.
En wanneer dit ‘n oomblik stil word en die skaduwee teen die muur wys dat die son namiddag toe kantel, besef jy: dit is maar net ‘n bejaarde man met sy vrese en sy hoop. Hy is uitgeput, die energie is min – té min vir die wilskrag wat daar nog is. En jy wens dat jy hom kan beskerm teen die stuk ongenadigheid rondom hom.
Wanneer dit tyd word om te groet is sy handdruk ferm en vra hy met nadruk dat sy persoonlike groete en dank asseblief oorgedra word aan elkeen wat betrokke was tot hier by die proses om bewusmaking van sy saak. Daar is amper ‘n ondertoon van dringendheid in sy stem as hy vra: “Moet asseblief nie ophou met die aksie nie. Asseblief nie.”
Die gang is al lank agter en heelwat korter voor wanneer Willie Cloete saggies sê: “’n Mens kan wens om so ‘n Oupa te hê….”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.