Derde breinoperasie vir matriekleerder ná aanranding

Darren Joseph (19) is ‘n leerder aan die HTS Witbank.

ʼn Matriekleerder van eMalahleni het reeds sy derde breinoperasie ondergaan nadat hy glo deur sy ma se gewese vriend aangerand is.

Darren Joseph (19) was besig met sy matriekeindeksamen toe die aanval gebeur het. Sy ma, Deniel Rabie, se gewese vriend, Johan Koekemoer, het hom na bewering op 8 November met ʼn skokbreker teen die kop geslaan tydens ʼn stryery by die huis. Darren het oënskynlik sy ma, met wie hy ʼn baie hegte band het, probeer beskerm toe hy die hou teen die kop gekry het. Hy het onder meer ʼn skedelfraktuur opgedoen.

Darren was sowat twee weke lank in ʼn koma en weens ʼn gebrek aan ʼn mediese fonds is hy in ʼn staatshospitaal in die stad opgeneem. Hoewel hy aanvanklik in die intensiewe sorgeenheid behandel is, is hy later na ʼn algemene saal oorgeplaas en het sy toestand daar vinnig verswak.

Sy maats het sowat ʼn week ná die aanval ʼn gebedsuur vir Darren gehou en HTS Witbank, waar Darren ʼn leerder is, het met die hulp van ouers van die skool ingegryp. Darren is na ʼn private hospitaal oorgeplaas en word steeds daar behandel.

Darren, ʼn kranige atleet wat ook al as kaptein van die skool se eerste hokkiespan uitgedraf het, word beskryf as ʼn staatmaker wat gewild is onder sy maats – en ʼn jong man wat altyd glimlag.

Die voorval het sy lewe tot stilstand geruk, het Moira Outram, ʼn belanghebbende by die skool, gesê.

“Hy gaan heel moontlik ook rekonstruktiewe chirurgie ondergaan om die wond aan sy voorkop te heg,” het Outram gesê.

‘n Ernstige aanranding en drie breinoperasies later, glimlag Darren Joseph (19), ‘n leerder van HTS Witbank, nog steeds.

Die dokters is tevrede met sy vordering, hy ontvang deurgaans fisioterapie en het selfs al om sy bed gestap. Darren sukkel weens die trageotomie (ʼn buisie in die lugpyp wat met asemhaling help) nog om te praat en het ʼn hardnekkige longinfeksie.

“Darren sal rehabilitasie moet ontvang, maar die dokters is optimisties oor sy toekoms en vertrou dat hy volkome sal herstel,” het Outram gesê.

Intussen hoop die mediese koste op. Die hospitaalrekening beloop in dié stadium steeds nagenoeg R240 000 en dit bly ʼn opdraande stryd om genoeg geld bymekaar te maak om die rekeninge te betaal. Weldoeners het reeds sowat R60 000 van die onkoste gedek en ʼn ondersteuningsgroep is op Facebook vir Darren begin.

Iemand het onder meer aangebied om Kersfeeskoeke te bak waarvan die opbrengs vir Darren se mediese koste gebruik sal word. “Ons is ongelooflik dankbaar vir elke skenking,” het Outram gesê.

Darren sal na verwagting sy laaste drie matriekvakke, waarvan hy die eksamens misgeloop het, volgende jaar kan aflê.

Koekemoer verskyn weer in Januarie in die hof op ʼn aanklag van poging tot moord, nadat hy verlede maand onsuksesvol aansoek gedoen het om borgtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

magda ·

Dis reg – hou hom daar – Sterkte Daren hoop jy herstel volkome.

Sandy ·

Baie baie sterkte aan jou Darren. Ek sal jou in my gebede hou, want ek weet sommer jy gaan ok wees.

Franci ·

Gaan kyk gerus na Darren’s journey and support group op facebook. Ek hoop elkeen vind dit in hulle hart op ‘n bydrae te maak ten opsigte van sy hospitaal rekening

OumaLien ·

Dapper jong man en dankie dat jy jou ma wou beskerm. Baie sterkte met die herstelproses. Tyd heel definitief wonde.

Sê maar net ·

Baie sterkte Darren. Ek is so jammer dat so ‘n jong mens nou al bloot gestel moet word aan hierdie wrede wêreld. Ek hoop die ma se “gewese vriend” is opgesluit vir poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Cherokee ·

So dikwels word fondse gestig om mediese bydraes te vorder vir pasiënte en vele mense dra by vir mense wie hulle nie ken nie. Intussen vorder die medici slegs in. Het nog nooit gelees of gehoor van ‘n hospitaal wat ook bydra tot die uitgawes van pasiënte soos betrokke nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.