Dit is omdat die hartklep wat dokters in 2019 in sy hart ingeplant het, infeksie opgedoen het.
Logan het op sewe maande sy eerste hartoperasie ondergaan en het ná die operasie boonop sy gehoor heeltemal verloor. Hy kan tans nie hoor óf praat nie.
Ten spyte hiervan is Logan se ouers dankbaar vir elke greintjie genade.
Logan is in Oktober 2013 met behulp van ʼn noodoperasie gebore. Die dokters het ná Logan se geboorte vasgestel dat die hoofare van die hart omgeruil is en nie in die regte hartkamers is nie. Daar was ook ’n gaatjie in sy hartklep en hy het op sewe maande ʼn komplekse hartoperasie ondergaan om dié probleme te herstel.
In 2019 moes Logan wéér ’n oop hartoperasie ondergaan omdat sy hartklep bloed gelek het. Tydens dié operasie het dokters ’n beesklep vir hom ingesit.
Die gesin het gedink dis die einde van hul probleme, maar op 22 Augustus vanjaar is hy inderhaas in die Netcare Sunninghill-hospitaal in Sandton opgeneem.
“Sy hartritme was 240 slae per minuut en hy was omtrent blou in sy gesig weens ’n suurstoftekort. Ons het gedink ons gaan hom verloor,” vertel Sammy.
“Die dokters kon vasstel dat hy infeksie opgedoen het aan die klep wat twee jaar gelede ingesit is. Hy moet nou vir ses weke in die hospitaal bly terwyl hy antibiotika kry om die infeksie te behandel.
“Sodra die infeksie weg is, sal die dokters opereer om die hartklep te vervang.”
Logan het ook reeds ’n paar jaar gelede ’n kogleêre inplanting gekry, maar kan steeds nie hoor nie. Volgens Sammy sal die dokters nou, terwyl Logan in die hospitaal is, kyk hoe om die inplanting aan te pas sodat hy wel sal kan hoor.
Logan is tans in ’n skool vir leerders met spesiale behoeftes.
“Die afgelope sewe jaar was moeilik en ons hoop dit is nou die laaste operasie. Ons probeer maar moed hou.
“Dit is vir Logan frustrerend om heeltyd in die hospitaal te wees. Andersins gaan dit regtig goed met hom en hy bly positief.”
Volgens Sammy is dit vir hulle moeilik om met Logan te kommunikeer omdat hy nie kan hoor of praat nie. “Dis veral sleg omdat hy nie vir ons kan sê wanneer hy sleg voel nie. As hy skreeu, weet ons net iets is fout.”
Tog sê sy ouers Logan weet presies wat om hom aangaan. “As ons naby die hospitaal kom, sal hy sy hempie oplig en na die sny op sy bors wys.”
Intussen hoop die gesin se mediese rekeninge op en hulle vrees dat hul mediese fonds eersdaags uitgeput sal wees.
“Ek en Jaco moet weekliks heen en weer tussen Secunda en Johannesburg ry sodat een van ons heeltyd by Logan kan wees en die ander een by Logan se twee boeties, George (5) en Zayden (10). Dit ruk ons sakke.”
’n Gebedsblad vir Logan is vanjaar net ná sy opname in die hospitaal geskep. Hier vra die gesin vir gebede asook moontlike finansiële bydraes.
Ai , sterkte vir julle. Glo dit sal goed gaan
Arme kind. Ons bid vir jou en jou ouers.