Derde leerder van laerskool vir breinvliesontsteking behandel

Argieffoto

ʼn Derde leerder van Laerskool Delmas in Mpumalanga word in ʼn Pretoriase hospitaal behandel vir moontlike breinvliesontsteking, skaars drie weke nadat Danika van Rensburg (9) onverwags aan dié siekte dood is.

Johan de Beer, Laerskool Delmas se skoolhoof, het Maandag aan Maroela Media bevestig die leerder, ʼn graad 7-meisie, is oor die naweek in die Pretoriase hospitaal opgeneem.

“Haar ouers woon in Pretoria en sy gaan naweke huis toe. In die week bly sy hier in die koshuis,” het De Beer gesê.

Die meisie het vermoedelik Donderdag begin siek voel en is Saterdag in die hospitaal opgeneem.

Volgens De Beer sal die skool Maandag met haar ouers in verbinding probeer tree om die jongste inligting oor haar toestand te kry. Hy het gesê dit is nog nie bekend of dié geval van breinvliesontsteking die aansteeklike soort is nie.

Dié voorval volg nadat nog ʼn leerder aan die skool, ʼn graad 2-meisie, in ʼn hospitaal in Middelburg, Mpumalanga, vir breinvliesontsteking behandel is. Die meisie is egter reeds ontslaan en met behulp van toetse is vasgestel dat sy nie die aansteeklike soort breinvliesontsteking gehad het nie.

De Beer het gesê gerugte dat ʼn onderwyseres by die skool breinvliesontsteking gehad het, is onwaar. “Daar was wel ʼn graad 4-juffrou wat in die hospitaal opgeneem is, maar dit was vir behandeling wat verband hou met skade aan haar nekwerwels.”

De Beer het gesê daar is in dié stadium geen rede tot kommer onder ouers oor ʼn moontlike siekte-uitbreking nie. “Dit is egter wel ʼn ernstige siekte wat gemonitor moet word. Ons het alle ouers gewaarsku om bedag te wees op simptome en dadelik ʼn dokter of ongevalle-eenheid van ʼn hospitaal te besoek as hulle bekommerd is.”

Die skool het reeds ná Danika se afsterwe inligting wat deur ʼn plaaslike dokter saamgestel is aan ouers versprei. Die gevaartekens vir breinvliesontsteking is hoë temperatuur, koors en ʼn kind wat sleg voel en meer as normaalweg moeg is.

Ander simptome sluit in beenpyn, bewerasie, ʼn stywe nek, vinnige asemhaling, ʼn bleek vel met blou kolle, slaperigheid, deurmekaarheid, naarheid en aanhoudende braking.

De Beer het gesê dit is normale prosedure vir dokters om die departement van gesondheid in kennis te stel as hulle bekommerd is oor aansteeklike siektes en dit is nog nie in dié gevalle gedoen nie.

Klein Danika van Rensburg (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig Danika is op 27 Februarie in die Life Springs Parkland-hospitaal aan breinvliesontsteking dood. Volgens De Beer het sy nie die aansteeklike soort gehad nie.

Haar skielike dood kon egter die lewe van twee ander jong mense deur orgaanskenking red.

Halvor, Danika se pa, het destyds aan Maroela Media vertel haar dood het die gesin, van Sundra, swaar getref.

Volgens hom het Danika voor haar dood van erge oorpyn begin kla. Van Rensburg het gesê die gesin het nie in daardie stadium enige onraad gemerk nie, en het haar bloot met medikasie behandel. Haar toestand het egter bly versleg, sy het erge naarheid ervaar en amper voortdurend opgebring.

“Ons het die dag voor haar dood besef iets groots is fout. Ons het met haar na ons huisdokter gery en laat ondersoek. Hy het haar deeglik ondersoek – maar kon geen teken vind van ʼn infeksie nie. Hy het haar ʼn inspuiting gegee vir die naarheid en ander antibiotika voorgeskryf,” het hy gesê.

Volgens Van Rensburg was Danika se koors die aand só hoog dat sy vrou, Etta, haar eers in ʼn bad koue water gesit het voordat hulle met haar na die hospitaal gejaag het. Sy is dieselfde aand in die Life Dalview-hospitaal opgeneem en later na die Life Springs Parkland-hospitaal oorgeplaas.

“Haar koors was hoog. Haar handjies het begin saamtrek en haar ogies was baie droog. Sy het op pad na die hospitaal heelpad gekreun. Hulle het haar by die Dalview-hospitaal eers suurstof toegedien en op ʼn drup geplaas, en toe gesê hulle moet haar oorplaas. Sy is aan ʼn ventilator gekoppel en na die waakeenheid van die Springs Parkland-hospitaal oorgeplaas.

“Die dokters het bloed getrek en toetse gedoen en was baie bekommerd. Hulle het vir ons gesê hulle wil net nog een keer toets om seker te maak. Intussen het sy ʼn lumbale punksie gekry, maar geen reaksie getoon nie. Die tweede reeks toetse het dit bevestig: Ons dogtertjie was breindood en daar was niks wat ons meer vir haar kon doen nie. Die infeksie het té erg versprei,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Genieve ·

Sys so pragtig baie sterkte vir julle as ouers en die bree families.

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek het in die vroëe 80’s breinvliesontsteking gekry in 5SAI in Ladysmith. Dr Louis Minders het my lewe gered met sy onmiddelike diagnose, hospitalisasie in Ladysmith Provinsiaal en na 2 weke daar oorgeplaas na 1 Militêre hospitaal…… As jy ontsettende hoofpyn ervaar tot by die punt van braking, moenie wag om by ‘n dokter uit te kom nie.

Sanette ·

Sjoe, my hart. So pragtige dogtertjie! Sterkte aan haar mamma en pappa en familie!

Miekie ·

Ek wil ook net sterkte se vir die families wat deur ‘n moeilike tyd gaan en veral die dogtertjie se outers wat die dogtertjie aan die dood moes afstaan.
Ek regtig nie ek vra omdat ek regtig wil weet. As daar een of meer leerlinge met breinvliesontsteking gediagnoseer is moet die skool nie vir ‘n tydperk sluit tot daar geen gevalle meer is nie. Dankie

Tersia ·

Net vir die wat nie weet nie, daar is wel ‘n inenting by klinieke beskikbaar wat jou kind beskerm teen die siekte Dis wel effe duur en nie deur die medies gedek nie. Maar jou kind is meer werd as daai R980!

Lienke ·

Onthou die inenting sal nie help vir die infeksie wat deur die otitis media oftewel die oorontsteking veroorsaak is nie. Die infeksie het vanaf die oor na die brein versprei. Kinders met allergiee, sinus, oorpyn wat nie op antibiotika reageer nie moet vinnig n skandering kry, dan kan die drs die oorsaak bepaal en n ONK kan opereer indien nodig.

Wonder ·

Mag jul kind gou gesond word. Aan Danika se ouers en familie, mag die Vader julle die krag en insig gee om vrede en vertroosting te vind. Baie dankie dat julle van haar organe geskenk het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.