Derde liggaam gevind ná huisboot-brand

Die huisboot wat aan die brand geslaan het. (Foto: Bathabile Ndawo/Facebook)

Die liggaam van die bemanningslid wat vermis was ná ʼn luukse huisboot verlede Saterdag in die Jozinidam in KwaZulu-Natal aan die brand geslaan het, is gevind.

Maxwell Nyawo (36) se liggaam is Vrydagmiddag gevind, het kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, bevestig.

Altesaam nege mense, onder wie passasiers en bemanningslede, was genoop om oorboord te spring nadat die huisboot Shayamanzi I in vlamme gehul is.

Michael Mirschel (64), ʼn toeris van Duitsland, en Michael Phiri (51), wat as kok op die boot gewerk het, het in die proses verdrink. Polisiebeamptes van die Empangeni-soek-en-reddingspan het sedertdien onverpoos na Nyawo se liggaam gesoek.

ʼn Polisiebeampte wat met die soektog na Nyawo gehelp het, is boonop Maandag deur een van drie vermeende stropers geskiet. AO Jannie van der Westhuizen veg tans om sy lewe in die hospitaal.

Van der Westhuizen, ʼn ervare duiker wat verbonde is aan die waterpolisie in Richardsbaai, en sy kollegas het Maandagoggend die dam gepatrolleer toe hulle drie vermeende stropers teëgekom het. Een van die mans het ʼn skoot op die beamptes afgevuur en die koeël het Van der Westhuizen in die kakebeen getref.

Van der Westhuizen is per helikopter na Netcare The Bay-hospitaal in Richardsbaai geneem. Hy is daar gestabiliseer voordat hy na Netcare St. Augustine-hospitaal in Berea oorgeplaas is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.