‘Derde mag’ agter NFP-diskwalifikasie

Zanele Magwaza-Msibi, NFP-leier en adjunkminister van wetenskap en tegnologie (Foto: NFP)

Zanele Magwaza-Msibi, NFP-leier en adjunkminister van wetenskap en tegnologie (Foto: NFP)

Die president van die National Freedom Party (NFP) was “nie verras” om te hoor dat die gediskwalifiseer is om aan volgende maand se munisipale verkiesing deel te neem nie, glo weens “ʼn derde mag”.

“Almal weet daar is sommige politieke partye wat nog nooit van ons gehou het nie en tot ʼn sekere mate bly sal wees om te sien dat ons misluk,” het Zanele Magwaza-Msibi, Maandag gesê. “Maar ons kan nie toelaat dat hulle ons toekoms bepaal nie.”

Haar verklaring kom net ná ʼn bevestiging Maandag dat die party, wat sy begin het, nie aan die plaaslike verkiesing sal mag deelneem nie, omdat die registrasiefooi van byna R500 000 te laat betaal is.

Die party het die beslissing na die verkiesingshof geneem, wat Saterdag die appèl van die hand gewys het.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het besware gelug dat die hof binnekort ʼn uitspraak moet lewer, aangesien die drukwerk van die stembriewe minstens Dinsdag moet begin om ʼn logistieke nagmerrie te vermy wat maande lange beplanning omver sou werp.

Canaan Mdletshe, woordvoerder van Magwaza-Msibi, het Maandag aan die African News Agency gesê die party is besig met ʼn interne ondersoek om diegene op te spoor wat “met ander partye saamwerk om die ineenstorting van die NFP te verseker”.

“Ons het ʼn paar maande gelede gerugte gehoor, maar ons het dit nie ernstig oorweeg nie. Dit het net nie sin gemaak nie,” het hy gesê. “Ná die afgelope paar weke se gebeure het ons egter besef iets is aan die gang.”

Hy het gesê die party se senior leierskap sal waarskynlik Woensdag met konsultasies begin. Daar gaan oop sessies wees waar partylede kan besluit oor die pad vorentoe. Enige ander belangstellende is ook welkom om dit by te woon.

In antwoord op die vraag of die leierskap sy lede sal aanmoedig om vir ʼn ander party te stem of glad nie te stem nie, het hy gesê dit is die lede se besluit. “Ons sal hoor wat hulle sê. Dis hulle besluit,” het hy bygevoeg.

Magwaza-Msibi het Maandag om verskoning gevra aan die party se ondersteuners en gesê sy is “ontsteld” en “voel seergemaak” oor die ontwikkelings. “Ek doen ʼn beroep op ons lede om kalm te bly en met hul koppe te dink en nie met hul harte nie. Ek maan hulle om nie te oorreageer nie, want iets word aan die hele situasie gedoen. Ons probeer dit na die beste van ons vermoë oplos. Daarom versoek ek hulle om steeds ondersteuning vir die NFP in te win. Ons sal sterker hieruit opstaan.”

Sy het gesê die party sal aan sy teenstanders wys hy is ʼn stabiele politieke party. “Ons sal wys dat ons nie sommer net middelmatig is nie, alhoewel sommige lede, aan wie ons senior leierskap toevertrou het, ons in die steek gelaat het.”

Magwaza-Msibi het Sondag bevestig twee senior lede van die party het bedank. “Ek erken ontvangs van die bedankingsbriewe van ons voormalige nasionale voorsitter mnr [Maliyakhe] Shelembe en ons voormalige sekretaris-generaal prof [Nhlanhla] Khubisa.”

Die twee het onderskeidelik Saterdag en Sondag bedank ná die party ʼn dringende vergadering in Durban belê het om “onlangse gebeure” te bespreek.

Maroela Media het vroeër berig die party is gediskwalifiseer omdat hy nie sy registrasiefooi betyds betaal het nie. Die party het dit toegeskryf aan die nasionale tesourier wat die datums verkeerd verstaan het.

Lees alle vorige berigte oor die NFP op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

M A ·

Mense, julle moet ligloop. Die derde magte is nou orals. Was by Beitbrug onluste ook betrokke. ?

Stokies ·

Verstaan ek reg – hulle betaal laat, maar glo n ” derde mag ” is agter alles. Eish, altyd makliker om iets anders te blameer.

Lance ·

Wat verstaan hulle nie …sy was buite die reels ….en dit is dit ….dink mos altyd hulle is special en sal mooi kan praat …reels is reels darling

jaco ·

dis net n oefenlopie van die ANC-regering, wat die OVK en die howe beheer, om later ander partye ook uit te skakel in verkiesings. In Zimbabwe doen Mugabe al jare lank dieselfde met opposisiepartye

Jordaan ·

Moenie julle eie onbekwaamheid op een of ander duister mag blameer nie.

Lions ·

Kan iemand asb hierdie derde mag kontak en hoor of hulle nie van ons rugbyspanne kan help om meer spanne in die semi’s te kry nie asb?
Kan daai manne wat kontak het met die derde mag ook net vor hulle laat weet dat die een verkeerslig hier in ons dorp buite werking is asb. Dan sal hulle dit in die geheim, sonder dat ons dit agterkom, kom regmaak. Dankie derdemag!!!!

Maria van Dieweeck ·

Haha dankie Lions! Ek dink hulle sal kom help net na hul vergadering met die Tandmuis en Vader Kersfees!

Sarie ·

Almal is altyd so vining om te praat van ‘n derde mag, maar nog niemand kon regtig die vinger op die sogenaamde derde mag druk nie. So wie is nou eintlik regtig die derde mag in ons land

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.