Derde mag het #FeesMustFall geïnfiltreer, sê polisiekommissaris

studentebetogings 2015 feesmustfall fees must fall

Studentebetogings (Oktober 2015) (Foto: verskeie bronne, sosiale media)

Die polisie het inligting ontvang dat die #FeesMustFall-beweging geïnfiltreer is deur persone wat ʼn ander agenda het as die studente wat dit lei en hulle beplan om “nog ʼn Marikana” uit te lok, het die waarnemende polisiekommissaris lt.genl. Khomotso Phahlane, Donderdag gesê.

Phahlane het ʼn perskonferensie in Pretoria gehou oor die polisiëring en veiligheidsake wat met die #FeesMustFall-betogings op kampusse landswyd verband hou.

“Ons neem met kommer kennis van inligting wat voorstel dat die #FeesMustFall-inisiatief deur magte geïnfiltreer is wie se agenda nie in lyn is met diegene wat gratis onderrig soek nie,” het hy gesê. “Diegene met bymotiewe wil die polisie uitlok tot die punt waar daar sterfgevalle is in ʼn poging om nog ʼn Marikana te skep.”

Hy wou nie bekend maak wie geïmpliseer word nie, maar het gesê die polisie sal “dienooreenkomstig” enigiemand hanteer wat die betogings wil gebruik om bloedvergieting uit te lok.

Volgens statistiek wat tydens die perskonferensie bekend gemaak is, is 327 studente reeds sedert Februarie in hegtenis geneem.

Phahlane het gesê daar sal binnekort verdere inhegtenisnemings volg in verband met brandstigting.

Volgens hom monitor die Suid-Afrikaanse Polisiediens steeds die bedrywighede en betogings. “Die SAPD is operasioneel gereed om dié optredes te polisieer. Die meeste universiteite is tans gesluit en oor die algemeen is die situasie kalm by meeste kampusse, insluitend die instansies wat nog oop is,” het hy gesê.

Hy het alle rolspelers geloof vir die positiewe reaksie toe hulle reageer het op die versoek om selfbeheersing uit te oefen.

“Daar was die afgelope twee dae voorvalle wat kommerwekkend is vir die polisie, en dit word ondersoek,” het Phahlane bygevoeg. “Groepe met teenstrydige sienings of die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) gesluit moet bly, het gebots. Die SAPD kon die groepe uit mekaar hou en gewelddadige optrede is voorkom.”

Hy het gesê voorvalle van lesings wat ontwrig word of enige ander vorm van intimidasie word ten sterkste veroordeel.

Hy het gesê die meeste instansies sal binne die volgende week weer hul deure oopmaak.

“Diegene wat wil betoog en diegene wat wil klas bywoon en hul akademiese jaar wil voltooi, moet toegelaat word om dit vreedsaam te kan doen,” het Phahlane verduidelik.

Veiligheidsbeamptes het 12 petrolbomme en twee vyfliterkanne petrol in ʼn oop motorhuis by ʼn koshuis in KwaZulu-Natal gevind. “Dit is ʼn duidelike bewys dat daar sekere elemente is wat nie belangstel daarin om vreedsaam te betoog nie,” het hy bygevoeg. “Daar is persone wat nog steeds ʼn agenda het om eiendom te verwoes en gewelddadig op te tree.”

Hy het benadruk die SAPD sal steeds die situasie by alle universiteite monitor om ʼn vreedsame omgewing te bewerkstellig wat voordelig is vir opleiding.

Phahlane het bygevoeg senior polisiebeamptes, onder leiding van lt.genl. Gary Kruser, het by alle kampusse met universiteitsbestuur vergader. “Ons doen ʼn beroep op alle rolspelers om die regering se poging, om vrede, veiligheid en stabiliteit te verseker, te ondersteun.

“Polisiebeamptes sal enigiemand in hegtenis neem wat die wet oortree en hulle sal vervolg word,” het hy bygevoeg. “Jong mense word ontmoedig om hulleself aan enige misdryf skuldig te maak, want dit kan ʼn impak hê op hul toekoms. ʼn Kriminele rekord sal ʼn hindernis wees vir toekomstige werksgeleenthede.”

Phahlane het gesê hulle neem kennis van persone wat voorstel dat die #FeesMustFall-betoging geïnfiltreer is deur magte wat nie in lyn is met diegene wat gratis onderrig soek nie. “Die SAPD sal maksimum selfbeheersing toepas en aanvalle binne die wet bestuur. Ons sal alles in ons vermo;e doen om lewens en eiendom te beskerm kragtens ons grondwetlike mandaat.”

Hy het gesê polisiebeamptes het op die Soweto-kampus van die Universiteit van Johannesburg beslag gelê op dwelmmiddels en studente is in hegtenis geneem. Honderde inspuitings is oor ʼn openbare pad gegooi by Rhodes-Universiteit. “Dit kan nie as vreedsame betogings beskou word nie,” het Phahlane verduidelik.

Lees alle vorige berigte oor studentebetogings op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Petro ·

Bly die polisie het darem ook nou bygekom……die betogery en geweld en afbreek en brandstigting het lankal niks meer met klasgeld te doen nie..

snoefie ·

waar is die kerke vernaamlik die katolieke om hulle lidmate wat moontlik aan die betogings deelneem te vertel hoe verkeerd hebsug is. tersiere opleiding is en bly n luukse. dit is ongelukkig nie almal beskore nie.

MissDemeanor ·

Volgende week lees ons dat die polisie uitgewerk het dat die derde mag die EFF is.

Meisie ·

Dit is so duidelik soos daglig dat di 3de mag die EFF is.Kyk onder die betogers hoeveel rooimiere is daar.Hulle wil ni leer nie hul wil net di ander aanhits.Die Universiteit moet net hul toelatings standaard hoer maak,dan sal net die wat wil leer slaag.

Callie van der Merwe ·

Haai het die polisie ook nou agtrgekom dis alles deel van n plan om die land te verwoes! Die realiteit is dat n Marikana is op pad, ons weet net nie waneer nie. As ek kinders op universiteit gehad het sou ek hulle verbied het om op kampus te wees huidiglik. Die stoompot is naby bars!!!

Jan maak n plan ·

Die derde mag is seker Jan van Riebeeck en sy maatjies of apartheid. Gee enige student wat sy kursus suksesvol voltooi sy geld terug en hy moet vyf jaar in Suid Afrika werk.

Louisa ·

Reeds in GR1e moet hulle die wat 80% en 2 of 3onderskeidings toelaat op universiteit. Die res moet maar kollege toe of self studeer. Daar is meer privaat mense as studente betrokke by die betogings. Laat die wat betaal dan maar aangaan met studies en jaag die res uit. Dit is jou keuse om verder te leer vir jou eie toekoms nie die publiek sin nie. EFF natuurlik die aanhitsers

Basson ·

En julle het dit nie 18 maande terug al geweet??????

Dat al die optredes maar net rookskerms is vir anargie en rewolusie – rerrig!

Jean ·

Ai dis altyd ‘n derde mag as julle nie ‘n situasie kan beheer nie, dis seker weer die AWB of een of ander wit ou wat nou die skuld gaan kry, of die Evil West of ‘n Amerikaner wat nie eers weet waar SA op die kaart is nie. Hou op om ANDER altyd die skuld te gee en neem verantwoordelikheid vir julle aksies.

Johann Marx ·

Jip. ‘n Derde mag….’n Derde van die studente MAG swot, ‘n derde MAG NIE swot nie, en ‘n Derde mag dalk net hulle kursus slaag!! Nou verstaan ek ook….

John ·

Daar is altyd ‘n derdemag betrokke as die regering magteloos voel. Die mag kry nooit ‘n naam nie, maar die oposisie is snaaks genoeg altyd deel daarvan, nie die ongemaklike vriende wat ‘n swaard oor die regering se kop hou nie. Marikana word telkens deur die regering opgehaal om die polisie aan bande te le. Hoekom ondersteun die ANC-jeugliga die betogings so kragdadig, maar dan word die EFF alleen die skuld gegee. Niemand mag mos die regering se pokkeltjies aanvat nie. Julius het ‘n graad maar wat van pappie se skynbare woordvoerdertjie en opstokertjie. Nog onopgeleide-leiers-in-wording? Is daar ‘n verband tussen die SAUK-gebeure en #alllifefeesmustfallto0%? Al is dit net spuitnaalde?

Jen ·

Smyt die klomp moeilikheid makers in die tronk dan het hul wat hul wou gehad het “free education” en dan kan die ordentlikes met verstand verder studeer.

lettie ·

Die EFF glo ek is betrokke al sedert Rhodes must Fall beweging. Oproerige studente moet krimineel aangekla word. Die media sterk hul ook in hul kwaad om mediadekking te gee en die studente as slagoffers uit te maak van polisiegeweld ens. Kyknet nuus raak saans vervelig omdat daar maklik 8 tot 11 minute nuusdekking toegestaan word op die 7uur nuus.

Lions ·

Gewag vir die een. Jip!!! Weer die derdemag wat die skuld kry. Moet hierdie mag nie maar ‘n politieke party stig nie??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.