Derde plaasaanval in Vrystaat die week

(Argieffoto: Lorraine Claasen)

Pres. Cyril Ramaphosa moet erns maak met landelike veiligheid. Só sê die VF Plus na die derde ernstige plaasaanval in die Vrystaat die afgelope week.

“Die jongste plaasaanval in die Vrystaat op Japie van den Berg op sy plaas Hillbrow in Vierfontein, beklemtoon die noodsaak vir meer effektiewe landelike beveiliging,” sê Jan van Niekerk, VF Plus- provinsiale leier vir die Vrystaat.

Maroela Media het vroeër berig dat Van den Berg Dinsdagaand by sy plaashek oorval, na sy plaashuis gesleep, vasgebind, agterop sy bakkie geboender en kilometers verder agtergelaat is.

“ʼn Familielid van Van den Berg is boonop onlangs wreedaardig op sy plaas in Wesselsbron aangeval deur ʼn persoon wat op borgtog vrygelaat is. Hy het intussen in ʼn motorongeluk omgekom,” sê Van Niekerk.

Nog ʼn Vrystaatse boer, Mimie Jacobs, is Saterdag op haar plaas buite Bloemfontein aangeval. Sy het steekwonde aan haar kop opgedoen, het Maroela Media berig.

“Pres. Cyril Ramaphosa het onlangs belowe om die strafregstelsel te laat hersien om die paroolstelsel moontlik aan te pas om toe te sien dat veroordeelde misdadigers nie op vrye voete weer geslagsgeweld pleeg nie,” sê Van Niekerk.

“Die politieke wil bestaan duidelik om geslagsgeweld te bekamp, maar die uitroepe na landelike beveiliging val op dowe ore. Dit is onaanvaarbaar dat die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, geensins na landelike beveiliging verwys het in haar provinsiale rede nie.”

Die VF Plus meen die oomblik wat die politieke wil ontstaan om landelike gebiede te beveilig en behoorlike strafmaatreëls in te stel, sal daar ʼn drastiese afname in plaasaanvalle en ‑moorde wees.

“Landelike gemeenskappe is weerloos en afgeleë en moet met tye etlike ure wag vir hulp vanuit stedelike gebiede,” sê Van Niekerk.

Hy sê die VF Plus spreek sy innige simpatie uit teenoor die slagoffer, familie en vriende en wens hom ʼn spoedige herstel toe. “Die party sal die nodige hulp verleen om te verseker dat die skuldiges opgespoor en vervolg word sodat geregtigheid geskied.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Genis ·

Dit maak mens briesend om die te lees! Dis mense skending op die hoogste graad…

Oujongvrou ·

Genis “our people” gaan nie saamstem nie. Volgens hulle was apartheid baie baie erger. Hulle kon toe nie saam in dieselfde winkels ens as wittes ingaan nie. Dis wat voor my kop gegooi is hierdie week.

Michael ·

Die anc regering gaan nie help die boere moet hulle strukture verbeter,ek kan nie glo plaas aanvallers is slimmer en sterker as die boere nie ,raak georden ,gedisiplineerd en verdedig julself .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.