’n Tornado het Vrydagaand verwoesting in Utrecht en omgewing in die noorde van KwaZulu-Natal gesaai. Dit is die derde tornado om dié provinsie vandeesmaand te tref.
Reddingspanne is omstreeks 19:00 ontplooi nadat die tornado groot dele van die Waterval-korrektiewe sentrum in Utrecht, sowat 50 km oos van Newcastle, beskadig het. Soveel as 20 personeelhuise het ook in die slag gebly.
Sipho Hlomuka, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, het in ’n verklaring gesê die omvang van die skade aan ander eiendom in die gebied is nog nie vasgestel nie. Geen beserings is tot dusver aangemeld nie.
“Ons rampbestuurspanne is in die veld en bied ondersteuning aan families wat geraak word. Hierdie voorval kom in ʼn tyd waarin die provinsie rou oor die verlies van 23 lewens weens weerverwante voorvalle sedert Oktober,” het die LUR gesê.
Dit sluit in die tornado’s wat verlede week die New Hanover-gebied net buite Pietermaritzburg asook die Bergville-gebied getref het.
Groot skade is tydens dié tornado’s aangerig ná swaar reën en oorstromings wat tot verskeie sterftes in die provinsie gelei het. Talle huise is verwoes en etlike mense is kort ná die tornado’s as vermis aangemeld.
[Photos] South African Weather Service confirms that a tornado occured in the Utrecht area in KwaZulu-Natal https://t.co/SzWdet8wZv #ArriveAlive #Tornado @SAWeatherServic @EMERGCONTROL pic.twitter.com/b3lRv1XMRw
— Arrive Alive (@_ArriveAlive) November 23, 2019
Dis n skrikwekkende ervaring. Jammer vir die verliese aan huise en karre en tuine, maar dankbaar dat daar nie lewens verliese is nie. Sterkte uit KZN.