Derde tragedie ruk Helpende Hand

Attie Barnard en dr. Danie Brink. Foto: Verskaf

Attie Barnard en dr. Danie Brink. Foto: Verskaf

Solidariteit Helpende Hand het nog ʼn staatmaker verloor met die skielike afsterwe van Attie Barnard (53).

Die organisasie is die afgelope tyd geruk deur die tragiese ongeluk van dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur en sy gesin, waarin twee van sy kinders oorlede en sy vrou Lise ernstig beseer is, asook die dood van Monica Annandale van die Thabazimbi-tak.

“Helpende Hand is die afgelope maand deur diep waters, met ʼn paar tragiese gebeure, met die mees onlangse die tragiese afsterwe van Attie,” het Ernst Vorster, Helpende Hand se hoof van kommunikasie, Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Vorster het gesê Barnard, Helpende Hand se takvoorsitter van die Wellington-tak in die Wes-Kaap, is op 19 Januarie dood.

“Hy het ʼn hartaanval gekry terwyl hy en ʼn vriend gaan fietsry het. ʼn Verbygaande motoris, wat ʼn dokter is, het stilgehou en probeer om te help, maar dit was reeds te laat,” het hy gesê.

Brink het sy medelye met Barnard se gesin betoon en sy hartseer oor Barnard se dood uitgespreek. “Attie was een van die takvoorsitters wat ʼn ware vriend geword het vir baie van Helpende Hand se personeel en vrywilligers. Ons harte gaan ook uit na Marietjie, Attie se vrou en hul twee dogters, Atmari en Eloise. Ons bid vir hul vertroosting in hierdie moeilike tyd.”

Volgens Wilinda Ford, Helpende Hand se streeksorganiseerder in die Wes-Kaap, was Barnard sedert 2010 by Helpende Hand betrokke.

“Attie is ook die afgelope drie jaar ons Wes-Kaapse streekraadvoorsitter. Ons sal Attie onthou as ʼn  omgee-mens, iemand met ʼn goue hart en ʼn oop hand. Hy sou nie twee keer dink om iemand in nood te help nie en het altyd tyd gemaak vir ʼn grappie. Die tak het besluit om die Attie Barnard-studiefonds te stig ter nagedagtes aan Attie, wat baie betrokke was in die gemeenskap,” het Ford gesê.

Barnard se begrafnis begin Woensdag om 14:00 by die NG-kerk Wellington-Oos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Daan ·

Innige simpatie aan Attie se geliefdes.Asb alle mans bo 50,gaan asb na jou dokter.Laat toets jou bloeddruk,cholesterol,suiker,prostaat.Ek was topfiks en het op 59 ‘n hartaanval gekry-cholesterol.Kry die nodige medikasie en gebruik dit gereeld.

sarie van heerden ·

Ongelooflik hoe die lewe met handomkeer kan verander. Sterkte word Helpende hand en die familie toegewens. Hoe sal ons weet hoe voel daai werklike diep diep seer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.