Derde tragedie tref Pta-gesin in drie jaar

Stephan en Laetitia en hul kinders, Stephan en Tayla (Foto: Laetitia Swanepoel)

Die Swanepoel-gesin van Pretoria is vroeër vandeesmaand deur ʼn derde groot tragedie die afgelope drie jaar getref: Dié keer het hul huis in Monumentpark in die ooste van dié stad afgebrand.

In Januarie 2017 was dit ʼn kankerdiagnose en in Januarie 2016 het hul seuntjie verdrink.

Stephan (34) en Laetitia (31) Swanepoel het Dinsdag aan Maroela Media vertel hulle het saam met hul kinders, Stephan (8) en Tayla (3), op pad terug van Mosambiek by Laetitia se ouers in Warmbad (Bela-Bela) oornag toe hulle dié “ysingwekkende” oproep in die vroeë oggendure ontvang het.

“Ek het wakker geskrik toe ons buurvrou my gebel het. Haar woorde was kil: ‘Ek weet nie hoe om dit vir jou te sê nie, maar jou huis brand af.’ Ek het eers besef wat sy vir my gesê het die oomblik toe ek die selfoon neergesit het. Ek het my man wakker gemaak en gesê ons moet jaag, die huis brand. Toe los ons die kinders net daar en jaag deur,” vertel sy.

Swanepoel sê hoewel sy ontsteld was oor die brand, was haar eerste gedagte om haar seun, Gustav, se as uit die sitkamer te haal voordat die hele huis in vlamme verswelg word. Gustav, wat op tweejarige ouderdom oorlede is, se as was in ʼn kissie in dié vertrek.

“Ek het op pad Pretoria toe my skoonsussie gebel en haar gevra om net Gustav se as uit die huis te probeer kry. Hulle het na ons huis toe gejaag, maar toe sy daar kom, het sy net gesê: ‘Ek is jammer – die hele huis brand reeds.’ Ons het die brandweermanne gevra, maar hulle kon ook niks doen nie. Hulle het later net die as rondom die kissie probeer opskraap, maar alles het weggebrand. Dit het gevoel of ek hom vir ʼn tweede keer verloor het.”

Die gesin se huis in Monumentpark in Pretoria het heeltemal afgebrand (Foto: Verskaf)

Sy sê die gesin het bykans alles in dié brand verloor. Hoewel die bure en ander inwoners van die woonbuurt in ʼn desperate poging probeer het om die brand te blus, was dit sonder enige sukses. Teen die tyd dat die brandweerdienste die brand kon blus, was alles afgebrand.

Volgens die gesin was daar die aand van die voorval ʼn inbraak by die huis waarna ʼn groep verdagtes na bewering die huis aan die brand gesteek het. Sy sê slegs die motorhuis en studeerkamer, wat in die onderste vlak van die huis is, is nie deur die vuur geraak nie.

“Alles is tot teen die grond gebrand – die kamers, die kuierarea en selfs my fotografie-ateljee. Maar wat help dit om te huil en te tob? Jy het twee keuses wanneer jy deur so ʼn moeilike tyd gaan: jy kan fight of jy kan gaan lê. En ons het besluit om wéér te fight. Ons het kinders wat ons ondersteuning nou baie nodig het. Die gemeenskap se ondersteuning beteken vir ons familie ongelooflik baie. Daar is soveel mense wat na ons uitgereik het en aangebied het om te help, dat mens nie kan glo daar is nog soveel mense wat omgee nie,” vertel sy.

Swanepoel sê sy is ewig dankbaar aan die inwoners in die buurt wat haar honde van die toneel gered en na die veearts geneem het. Net een van die honde, Ivy, ʼn weimaraner-hond, het brandwonde opgedoen, maar is nou in ʼn stabiele toestand.

Gustav (Foto: Laetitia Swanepoel)

Sy sê die gesin probeer nou fokus op die positiewe – soos ander meer dat sy in remissie is nadat borskanker verlede jaar by haar gediagnoseer is. Ná chemoterapiebehandeling van langer as ses maande, begin haar hare weer teruggroei en is dokters baie positief oor die herstelpad vorentoe.

“In al hierdie rampe wat ons deur is, het ons geleer om mekaar te waardeer. Ons het geleer dat dit belangrik is om lief vir mekaar te wees en om daar te wees om mekaar te ondersteun.

“En dis goor – dis nie maklik om te wonder waar alles weer vandaan gaan kom nie, maar wat ons troos, is dat mense regtig omgee. Mense uit alle oorde wil ons help en bystaan, en ons wil doelbewus fokus op die goeie dinge. Ons is sterker as wat ons ooit besef het ons is.”

Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die polisie, het Dinsdag aan Maroela Media gesê ʼn saak van brandstigting word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die Swanepoel-gesin woon in die tussentyd by vriende in Pretoria. Die gesin se buurvrou, Cindy, het intussen ʼn groep gestig om hulle by te staan met hul noodsaaklikste benodighede. Vir meer inligting, bel vir Cindy by 082 894 8165.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Hanna ·

Hoe ongelooflik hartseer… Laasweek het n plaashuis ook afgebrand na n inbraak. Tweede verskroeide aarde beleid? Sterkte aan die gesin! Wat n pragtige klein seuntjie.

Rentia Mynhardt ·

Daar was oor Kerstyd ook ñ geval van ñ inbraak waarna die huis aan die brand gesteek is in Klerksdorp.

Linda ·

Ag nee Hanna….verskroeide aarde beleid?

Baie baie sterkte aan die Swanepoel-gesin.

Bloubul ·

Blykbaar nou ‘n modus operandi van die gespuis om bewysstukke te vernietig. Dit gaan al hoe meer gebeur en in die toekoms kan ons maar regmaak vir hoër koste met versekering ook.

Leonie ·

Sjoe, ek sluk swaar aan die knop in my keel. Ek is so ongelooflik jammer oor al die tragedies wat die gesin al getref het. En lees met verwondering hoe sterk en positief hulle gesindheid is tenspyte van alles. Mag God hulle styf teen Sy bors koester en die toekoms net met geluk, goeie gesondheid, voorspoed en vrede gevul wees.

Verwonder ·

Daar is so baie mense wat altyd net klae en mwer wil he. Ek haal my hoed af vir die gesin hulle het alles verloor en is nog steets positive. Hulle as gesin is n baie mooi voorbeeld ware liefde.
Baie sterkte vir hulle as gesin mag die Here elke oomlik saam hulle wees.

Hanlie ·

Elke foto vertel ‘n storie. Watter talent het sy om te midde van die verwoesting dit vas te lê deur die ongelooflike goeie fotografie. Sterkte.

Valerie ·

Kom aan, Pretorianers, gaan help die mense. Plaas julself in hul posisie . . . net vir ‘n oomblik. Volgende keer is dit ons beurt om gehelp te word. Ek weet die mense van Pretoria is juwele.

Wanda ·

Max, waar val jy uit boet……dink jy is op die verkeerde onderwerp?????

Brand? ·

Lyk my dit raak n nuwe norm vir die duiwelse skelms, by die misdaad toneel, brand sommer die huis af, geen vinger afdrukke of bewyse nie, hier in ons area dieselfde probeer met n misdaad toneel, gelukkig was die brand vroeg genoeg geblus, sterkte aan die gesin, mag alles wat jul verloor het veelvoudig aan jul terug gegee word.

$ ·

Dit is opvallend en skrikwekkend dat brandstigting nou deel geword het van die modus operandi ná inbrake; ek dink nie dis noodwendig om bewyse uit te wis nie maar ´n nuwe vorm van sielkundige oorlogvoering en ‘spiteful-geit’ teenoor die eienaars van die huis, om hulle siele en menswees te vernietig – dít wat die misdadigers nie wil hê nie mag die slagoffers ook nie hou nie, vernietig dit.

Dit is ´n ruk terug gedoen met die mense steeds in die huis )-:

Here, gryp asseblief in met hierdie land …

Elsa ·

Ons gebedes is regrondom die gesin . die verantwoordelike persone wat brand gestig het sal spoedig vasgetrek word…dankbaar jul geloof is geanker in die EEN wat jul weereens sal dra

Gesiggie ·

My hart ruk in twee…. soveel hartseer wat jul moes ervaar, en nou nog jul huis ook verloor… as ek na die Engel gesiggie kyk van jul seun , dan is dit of hy met sy mooiste glimlag na jul afkyk van uit die Hemel … en jul wil laat weet… dit is Ok Mamma en Pappa ,,, ek is veilig by Jesus… Ek ken jul seer, en ek weet waardeur jul moet gaan… Bly sterk al is dit nie elke dag maklik, sterkte vir jul, mag jul lewe van nou af net besaai word met tonne Geluk… en als wat mooi is in die lewe.. en mag jy Laetitia genees word in Jesus naam….

Gina ·

Ek gaan nou bid en vir ons Hemelse Vader uit my hart dankie sê vir alles wat ek het. En jammer sê vir alles waaroor ek kla. Dit maak my skaam.
Sterkte aan hierdie gesin. Dit moet verskriklik wees.

Theresa B ·

Dit is baie hartseer. Ongelooflik – Is dit nou weer die nuutste. Breek in en brand dan die huis af?!

HARTSEER ·

Ja dit is die nuwe modus operandi. die inbrekers/moordenaars brand deesdae die huise af sodat enige kamera toerusting wat hulle kon afneem nie meer beskikbaar is nie. Verder gaan dit ook om die slagoffers te straf om alles van hulle weg te neem .. Met vuurhoutjies het hulle die eerste keer die land afgeneem en met vuurhoutjies sal hulle die laaste mense hier verjaag .. dit was die opdrag.

Denise ·

Hartseer ek het nie woorde nie sterkte aan die familie!!!!!

Veertjie ·

My hart wil breek vir hierdie mense! Ons is so gewoond om baie te hê en dan vergeet ons nog om vir God dankie te sê. Om so pragtige seuntjie soos Gustav te moes verloor, kanker te oorwin èn jou huis en al jou besittings brand af – :( en hulle sê hulle gaan veg? ons bid vir julle. Wens diep en opreg uit my hart dat ek julle kon help. Mag Vader julle seen met goedheid en guns. Liefde vir julle. xx

christa ·

Dis vreeslik Hartseer Maar Onthou Dat God Baie Goed is Altyd

Marie ·

Afriforum moet n noodfonds stig vir sulke gevalle. Ons moet saamstaan.

Afrikaanse Knaap ·

Ek het myself ook al ‘n paar keer gevra dat hulle bank besonderhede sal publiseer waar ons ouens wat vêr is ‘n paar rand kan skenk.

Sterretjie ·

Mag Vader julle baie styf vashou en ons spreek lewe voorspoed en dubbele seen oor julle uit.

Pers Heks ·

Hoe staan ‘n mens op na al die smart …. hoe plak jy weer jou lewe aanmekaar wat in skerwe voor jou voete lê? Ek haal my hoed af vir hierdie ouers!!!! Mag die genade en vrede van ons Abba oor julle spoel en omvou en al die leed, verlies en hartseer verdwyn!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.