Derde UK-personeellid toets positief

Die Universiteit van Kaapstad. Foto: https://www.news.uct.ac.za

Die Universiteit van Kaapstad (UK) het bevestig dat ʼn derde personeellid positief vir die nuwe koronavirus (Covid-19) getoets het.

Prof. Mamokgethi Phakeng, visekanselier, het gesê die derde personeellid wat positief getoets het, is ʼn projekbestuurder.

Dit volg nadat die eerste geval by die universiteit op 15 Maart bevestig is en die tweede geval op 19 Maart.

“In al drie gevalle het die provinsiale departement van gesondheid die gevalle deur middel van die voorgeskrewe protokol bevestig. Die drie kollegas is in kwarantyn.”

Volgens Phakeng het die departement van gesondheid ook onmiddellik begin om mense na te spoor wat met die mense wat positief getoets het, te doen gehad het. “Diegene wat geïdentifiseer is wat nabye kontak gehad het, is gevra om hulself vir twee weke in self-isolasie te plaas.”

Prof. Mamokgethi Phakeng. Foto: UK

Phakeng het gesê universiteit gaan voort om al drie gevalle te monitor. Sy het die drie personeellede die beste toegewens in die moeilike tyd. “Ons vertrou dat hulle ten volle gesond sal word.”

Phakeng het ook benadruk dat die universiteit daartoe verbind is om vertroulikheid te handhaaf met betrekking tot die mediese toestande van personeel.

“Dit sluit die inligting in met betrekking tot die toetsing vir aansteeklike of nie-aansteeklike siektes wat ’n persoon kan hê; dit is ’n belangrike etiese imperatief,” het Phakeng gesê.

“Om mense se identiteit in e-posse of via sosialemediaplatforms bekend te maak, of om inligting oor hulle vry te stel wat hulle kan identifiseer, moet vermy word.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.