Derde van begroting gaan aan salarisse

Enoch Godongwana, minister van finansies (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Sowat eenderde van die staat se algehele besteding (31,9%) gaan in hierdie stadium aan staatsamptenare se salarisse, aldus die 2024-begroting wat min. Enoch Godongwana ’n kort ruk gelede in die Kaapstadse stadsaal ter tafel gelê het.

Dié begroting toon dat R251,3 miljard intussen by die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) gevoeg is om te verseker dat die salarisse van onderwysers, dokters, verpleegsters, polisie en baie ander staatsamptenare gefinansier word.

Gekonsolideerde besteding sal R2,37 triljoen in 2024-’25, R2,47 triljoen in 2025-’26 en R2,6 triljoen in 2026-’27 beloop.

Wat onderwys betref, sal 77% van die nege onderskeie provinsiale onderwysdepartemente se begroting vanjaar alleen aan salarisse bestee word.

Die minister het vanmiddag aangekondig dat R2,8 triljoen (51,1%) van algehele nie-rentebesteding oor die volgende drie jaar aan provinsies en munisipaliteite toegeken is.

R531,7 miljard word aan plaaslike regerings toegeken, en R2,3 triljoen aan provinsies.

’n Bykomende R105,5 miljard sal ook oor die volgende drie jaar aan provinsies toegeken word om die koste van die inwerkingstelling van die 2023-staatsdiensloonooreenkoms, hoofsaaklik in die onderwys- en gesondheidsektore, te dek.

Sowat R4 miljard sal beskikbaar gestel word vir die aanstelling van meer onderwysassistente deur die basiese onderwysskole-indiensnemingsinisiatief.

Die regering het ook voorsiening gemaak vir inisiatiewe wat op werkskepping gemik is.

R61,4 miljard word vir indiensnemingsprogramme op medium termyn bewillig. R7,4 miljard is spesifiek toegeken vir die sogenaamde presidensiële indiensnemingsinisiatief.

Begroting per funksie

’n Bedrag van R251,3 miljard is bygevoeg tot regeringsfunksies, waaronder gesondheid, onderwys, vrede en veiligheid en maatskaplike ontwikkeling. Dit is hoofsaaklik om voorsiening te maak vir die deurvoerkoste van die 2023-’24-loonverhoging én die verlenging van die sogenaamde Covid-19-toelaag vir nog ’n jaar.

Leer en kultuur, wat basiese en hoër onderwys, asook kuns, kultuur en sport insluit, sal op medium termyn die grootste deel van die koek kry.

Die 2024-begroting toon dat leer en kultuur byna ’n kwart van die sogenaamde regeringsfunksies se begroting sal ontvang (R1,51 triljoen), terwyl algehele openbare dienste maar met 3,7% (R231,5 miljard) van die begroting sal moet klaarkom.

Aan gesondheid word altesaam R848 miljard volgens die mediumtermyn-begrotingsraamwerk toegeken. R1,4 miljard gaan aan die plan vir Nasionale Gesondheidsversekering (NGV); R27,3 miljard gaan aan infrastruktuur en R11,6 miljard om die 2023-loonooreenkoms aan te pak.

Die departement van onderwys sal R271,9 miljard in 2024-’25 ontvang, terwyl die vrede-en-veiligheid-groepering R765 miljard sal ontvang om onder meer misdaad te bekamp.

Altesaam 10 000 nuwe polisierekrute sal in die komende boekjaar opgelei word, het die minister vanmiddag aangekondig.

R628 miljoen is aan die departement van justisie toegeken.

Toelaes

Sowat R1,17 triljoen is vir maatskaplike toelaes en welsynsdienste toegeken.

’n Verhoging van R100 tot die ouderdom-, oorlogsveterane-, gestremdheid- en sorgafhanklikheid-toelaes is ook tot die MTBR gevoeg.

Hierdie bedrag sal verdeel word in effektief R90 vanaf April, en effektief R10 vanaf Oktober.

’n R50-verhoging in die pleegsorgtoelae en ’n R20-verhoging in die kinderonderhoudstoelae is ook toegestaan.

Verkiesing

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) ontvang in die verkiesingsjaar ’n bykomende R2,3 miljard om hul pligte tydens die komende verkiesing uit te voer.

Aan die polisie en verdediging word ook ’n bykomende R350 miljoen bewillig om die OVK in die taak te ondersteun.

’n Verdere R200 miljoen sal polities bewillig word vir politieke partyfinansiering in aanloop tot die verkiesing.

Hervestiging van boere

Die regering ondersteun ook hervestigde boere deur grondherverdeling- en verblyfreghervorming-programme, waaraan R6 miljard oor die MTBR toegeken is.

Die regering beplan ook aldus die begroting om meer as R943 miljard in openbare infrastruktuur te belê.

Lees al Maroela Media se berigte oor die begrotingsrede hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Manie ·

Waarop dit eintlik neerkom, is dat die ander 2/3des daarmee tevrede moet wees dat die staat 1/3de van alle inkomste vir hulself neem, terwyl hulle inderwaarheid absoluut niks daarvoor kan wys nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ongelooflik! Gekonsolideerde besteding is R2 370 000 000 000 000 000 in 2024-’25, R2 470 000 000 000 000 000 in 2025-’26 en R2 600 000 000 000 000 000 in 2026-’27. Dis mos baie geld!

Marous ·

Absolute twak . Sny hul salarisse met die helfte . Hulle doen niks !

piet ·

Amper soveel as wat Trump moet betaal vir sy bedrog. LOL. So terloops – Ek sien Maroela is besonder stil oor die Trump bedrogsake wat hy verloor het en honderde miljoene dollar moet betaal, stories wat hoofnuus is werelwyd.

Papsak ·

Ja n derde gaan vir salarisse terwyl ander in hulle sakke gaan en res moet vrek van hongerte is dit reg mmmm nee is nie reg nie

Johannes ·

Waarom moet belasting betalers betaal vir mislik te staat besteding vir hulle gerief

tierwyfie ·

Die regering se salarisse moet met ten minste 2 derdes verminder en hulle moet uit hul eie sakke betaal as hulle veiligheidswagte wil hê, en alle staatsamptenare (behalwe Dokters en gekwalifiseerde mediese personeel en onderwysers) moet heraansoek doen vir hul poste, ‘n eksamen skryf en psigometriese toetse aflê om te sien of hulle wel die werk kan doen. Dan gaan ons van baie van die onbevoegdes ontslae raak en hulle salarisse moet verminder word. Die unies wat ook ‘n euwel in ons land is moet ook afgeskaf word.
Daar behoort ‘n komitee saamgestel te word wat uit alle rasse bestaan en dit moet belasting betalers en ekonome wees wat die salarisse bepaal en die buitensporige salarisse moet verminder word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.