Derde verdagte in hof oor gesteelde treinspore

Foto: Valke

’n 40-jarige man het Maandag in die Vosman-landdroshof in Mpumalanga verskyn in verband met die diefstal van treinspore.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, sê die man bly in aanhouding tot hy weer volgende Maandag in die hof verskyn. Hy sal na verwagting dan aansoek om borgtog doen.

Sekgotodi sê sy naam word in hierdie stadium weens die sensitiewe aard van die ondersoek weerhou.

Die man het in die hof verskyn op aanklagte van die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur, diefstal en die besit van gesteelde goedere.

Hy is Saterdag by sy huis in Vosman in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig die man is ʼn werknemer van ʼn bekende afvalbestuur- en skrootmetaalonderneming in Mpumalanga en word verbind aan ʼn voorval waar treinspore ter waarde van R1,4 miljoen gesteel is.

Lede van die Valke het verlede week Maandag in samewerking met ander agentskappe verdagtes dopgehou wat by Kromdraai treinspore op ʼn vragmotor gelaai het. Die beamptes het op die verdagtes toegeslaan en twee mense in hegtenis geneem.

Die twee verdagtes wat in hegtenis geneem is, Thulani Rodrigo Khumalo (33) en Dumisani David Nkosi (38), het Vrydag in die hof verskyn.

Sekgotodi sê Nkosi se saak is teruggehou terwyl Khumalo na verwagting weer Woensdag in die hof sal verskyn waar hy om borgtog sal aansoek doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kokerboom ·

Stel voor skuldige skrootwerwe en maatskappye moet summier gesluit word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.