Derde verdagte vas ná bedrogspul by bank

Argieffoto

ʼn Derde verdagte het Woensdag in die Harrismith-landdroshof verskyn nadat hy glo verbind is met ʼn bedrogspul vroeër vanjaar by ʼn bank in Harrismith, Vrystaat.

Bongani Innocent Mazibuko (38) het saam met Hopewell Mpendula Daguma (31) in die hof verskyn op aanklagte van bedrog, geldwassery en diefstal.

AO Lynda Steyn, woordvoerder van die Valke, sê Daguma en nóg ʼn verdagte, Thandeka Tryphina Mlangeni (32), wat ten tye van die bedrog ʼn werknemer van Standard Bank in Harrismith was, het na bewering vroeër vanjaar ʼn bankkaart gekloon. Mlangeni het glo die gekloonde kaart aan ʼn “kliënt” se bankrekening gekoppel en toe deur verskeie bedrieglike transaksies ʼn bedrag van R1 miljoen in Daguma se persoonlike rekening inbetaal.

Volgens Steyn het die Valke se ondersoek verder aan die lig gebring dat Daguma van die “gesteelde” geld gebruik het om ʼn Nissan NP200-bakkie te koop wat hy weer op 9 Junie vir R120 000 verkoop het. Die geld wat hy vir die bakkie gekry het, het hy daarna glo in die rekening van die derde verdagte (Mazibuko) gedeponeer, wat dit op sy beurt onttrek het en die kontant aan Daguma gegee het.

Mlangeni en Daguma is op 5 Junie vanjaar onderskeidelik in hegtenis geneem. Hulle staan tereg op meer as 80 aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery. Hulle het in die Harrismith-landdroshof verskyn waar hulle R5 000 borgtog elk toegestaan is.

Mazibuko en Daguma sal na verwagting Vrydag weer in die hof verskyn waar hulle dan formeel om borgtog kan aansoek doen.

Die aanvanklike saak teen Mlangeni en Daguma sal waarskynlik op 11 September in die Bethlehem-streekshof plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Persheks Adri ·

Klein vissies net om korrupsie van die regering af weg te draai vir ‘n klein rukkie! Wow R5 000 borg vir R1 miljoen rand se diefstal! Iemand nie lekker in die kop nie

Scalla ·

Dit is slegs die beginstadium, hopelik gaan hul nou kwalifiseer vir een of ander regerings pos.

JohanR ·

Wonderlik Scalla hoe ‘n hele land weet hoe werk die ANC!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.