Derde verdagte vas ná Kimberley-rooftog

Argieffoto

ʼn Derde vermeende rower is in hegtenis geneem in verband met ʼn gewapende rooftog by ʼn winkel in Kimberley.

“ʼn 34-jarige man is Saterdagmiddag by ʼn huis in Galeshewe, Kimberley in hegtenis geneem,” het kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, gesê.

Die polisie is Donderdag omstreeks 17:15 ontbied na ʼn sakerooftog by ʼn slaghuis naby Phutanang in Kimberley. Vyf mans het die slaghuis betree waar hulle een van die manlike werknemers geskiet het. Die verdagtes het met ʼn onbekende bedrag kontant gevlug en in ʼn nabygeleë veld ingehardloop.

Een van die verdagtes is tydens ʼn oor-en-weer-skietery met die polisie gewond. Nog ʼn verdagte is in die veld in hegtenis geneem.

“Die polisie is nog op soek na die twee ander verdagtes en versoek die gemeenskap om hulle nie te benader nie, aangesien hulle gewapen en gevaarlik kan wees. Enigiemand met inligting oor die voorval kan kapt. Doggy Magugu kontak by 074 580 7338. Alle inligting sal streng vertroulik hanteer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.