Derde verdagte vas ná moord op Pofadder-hoteleienaar

Leon Brits en sy vrou Suretha. (Foto: Verskaf)

’n Derde verdagte is Donderdag vasgetrek in verband met die moord op Leon Brits (41), eienaar van die gewilde Pofadder-hotel in die Noord-Kaap.

Brig. Mohale Ramatseba, woordvoerder van die polisie, sê die verdagte, ʼn 24-jarige man, is gister op Kathu aangekeer.

Die man sal na verwagting Maandag in die landdroshof op Pofadder in die Noord-Kaap verskyn.

Die provinsiale taakspan vir georganiseerde misdaad, die direktoraat van prioriteitsmisdaadondersoeke, en speurders van Pofadder en Springbok onder leiding van brig. Dick de Waal het saamgewerk om die man vas te trek. Hulle het ook gesorg dat die eerste twee verdagtes, Jacques van Vuuren (34) en Enrich Williams (37), in verband met dié moord vasgetrek word.

Van Vuuren en Williams is verlede week Vrydag vasgetrek. Williams is op Piketberg in die Wes-Kaap aangekeer en Van Vuuren is op Kathu in hegtenis geneem.

Hulle het Dinsdag vlugtig in die landdroshof verskyn en die saak is tot 26 Oktober vir ʼn borgtogaansoek uitgestel.

Maroela Media het vroeër berig Brits is op 7 Oktober 2020 met meswonde dood aangetref. Leon is vermoedelik verwurg en met ’n skerp voorwerp gesteek voordat sy liggaam in die onderdakswembad agtergelaat is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Juffrou ·

Ja al vlug jy waarheen ook al, jy sal gevind word. Goeie speurwerk.

Androclus ·

Waarvoor wag vir borgtog,hulle moet net eenvoudig sit agter tralies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.