Derde vlaag dalk nie so erg in Wes-Kaap

Premier Alan Winde.

Daar word verwag dat die derde vlaag Covid-19-infeksies nie so erg in die Wes-Kaap sal wees soos met die vorige vlaag nie.

Dit is volgens die nasionale Covid-19-modelleringskonsortium. Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het gesê dit sal egter van talle faktore afhang.

Intussen beleef die provinsie steeds ʼn oplewing in Covid-19-infeksies. Winde het gesê die toename in die aantal gevalle is kommerwekkend, maar daar is steeds die geleentheid om die verspreiding te vertraag.

Daar was die afgelope 12 dae ʼn voortdurende toename in Covid-19-infeksies in die Wes-Kaap en die aantal daaglikse nuwe Covid-19-gevalle het met gemiddeld 200 nuwe diagnoses per dag toegeneem.

In die Kaapse metro was daar weekliks ʼn toename van 33% nuwe gevalle. Aan die Weskus neem die aantal gevalle ook skerp toe. Daar is tans 763 Covid-19-pasiënte in hospitale.

Volgens Winde is die provinsie gereed om op ʼn derde vlaag te reageer.

“As provinsiale regering het ons maatreëls ingestel om te reageer op die derde golf. Hierdie maatreëls sal verseker dat ons doeltreffend en vinnig reageer op ʼn toename in gevalle, asook dat ons die aantal opnames en sterftes drasties kan verminder.”

Die maatreëls het ten doel om te verhoed dat die gesondheidsorgstelsel oorweldig word en te verseker dat inentings ononderbroke kan voortgaan.

Die provinsiale regering se plan behels onder meer die verandering van mense se gedrag om infeksie te voorkom; waarneming en vinnige reaksie op uitbrekings; die handhawing van omvattende dienste; en die beskerming van gesondheidswerkers.

“Ek doen ʼn beroep op inwoners van die Wes-Kaap om die derde golf te help keer deur hul maskers te dra, nie-noodsaaklike byeenkomste te vermy, gereeld te ontsmet, diegene met ʼn hoë risiko vir ernstige Covid-19-infeksie te beskerm en om die inenting teen Covid-19 te kry.”

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dirk Mostert

Die winter met sy gewone coronavirusse begin nou. Meer mense as laasjaar gaan nou dokter toe hardloop vir elke hoes of krieweling, waar elkeen getoets word, met gepaardgaande kwota aan positiewe toetse. Vanjaar is daar die bykomende effek van die entveldtog. Ek verwag die derde vlaag gaan statisties erger wees.

Samuel

Die DA-regering in die Weskaap is op en wakker. Hulle bestuur die pandemie ook goed. Dit is winter en gevolglik gaan meer mense siek word.