Derduisende aanlyn aansoeke reeds vir Gauteng-skole ontvang

(Argieffoto: Unsplash)

Die Gautengse departement van onderwys het teen Maandag 12:00 altesaam 233 035 aanlyn aansoeke vir gr. 1- en gr. 8-leerders vir die 2021-skooljaar ontvang.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement, het in ’n verklaring gesê altesaam 100 599 aansoeke is vir gr. 1-leerders ontvang en 132 436 vir gr. 8-leerders. Mabona sê ongeveer 30 796 ouers het aanlyn dokumentasie ingedien.

Die aanlyn registrasieproses vir die 2021-skooljaar het Donderdag om 08:00 begin. Teen Donderdag 10:30 is 68 000 aansoeke reeds ontvang.

Maroela Media het vroeër berig ouers het verlede Donderdag gekla dat hulle sukkel om aanlyn aansoek te doen. Die departement sê sommige ouers het SMS’e ontvang wat hul aansoeke bevestig het, maar dit het geen verwysingsnommer bevat nie. Dié nommers sal volgens die departement vandag nog aan aansoekers gestuur word.

Weens die groot getal aansoeke was daar ook probleme om sommige aansoekers se adresse of ID-nommers te bevestig. Volgens die departement is dié probleme binne ʼn paar uur reggestel.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys, het om verskoning gevra aan ouers wat probleme ondervind het  in die eerste uur nadat die stelsel geopen is, asook gesê hy is dankbaar dat hulle van die stelsel gebruik maak.

Mabona sê in die verklaring ouers moet onthou om die aansoekdokumente op die aanlyn stelsel te laai of die werklike dokumente self by skole waar hulle aansoek doen, in te handig.

“Alle ouers wat met die aanlyn proses sukkel, kan 0800 000 789 om hulp bel,” sê Mabona.

Lesufi moedig ouers aan om aanlyn te registreer. “Ons moedig diegene wat nog nie aansoek gedoen het nie aan om dit so gou moontlik te doen,” sê Lesufi.

Terwyl ouers skarrel om kinders vir volgende jaar te registreer, is tientalle skole steeds weens Covid-19 gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.