Derduisende hektaar in Limpopo-brande verwoes

Foto: Verskaf deur Joe Balt

Foto: Verskaf deur Joe Balt

Talle Limpopo-boere moes die afgelope week verslae toekyk hoe onkeerbare brande hul plase, weiding, landerye, geboue en voertuie verwoes.

Sam Maepa, algemene bestuurder van Working on Fire, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die brande het rondom Alma, suid van Vaalwater, begin en van daar wyd versprei. Meer as 80 000 hektaar is reeds verwoes en miljoene rande se skade is aangerig.

“Ons is op die oomblik besig om teen ʼn brand te veg meer in die rigting van Thabazimbi waar dit nog erg brand. Gelukkig is die wind nie te sterk nie en behoort ons die brand onder beheer te kan kry, maar as die wind optel, is ons in groot moeilikheid,” het Maepa gesê. Hy het gesê brandbestryders is ook steeds op die toneel waar brande geblus is om enige dele wat steeds smeul te blus en om opruimingswerk te doen.

Foto: Verskaf deur Joe Balt

Foto: Verskaf deur Joe Balt

ʼn Brandbestryder het Sondag in een van die brande gesterf. Maepa het gesê ʼn groep brandbestryders is deur die vlamme oorval en een van die mans, Samuel Ramokgaba (35), het ernstige brandwonde opgedoen. Hy is per helikopter na ʼn nabygeleë hospitaal geneem waar hy aan sy wonde beswyk het.

Joe Balt wie se skoonfamilie by Alma boer, het aan Maroela Media gesê sy skoonpa se hoender- en wildsboerdery het erge skade in die brande gely. “Omtrent 70% van die hoenderboerdery is heeltemal weg, voertuie het gebrand, kragdrade is verwoes. Dit is erg,” het hy gesê.

Hy het gesê dit is nie in dié stadium duidelik of enige wild in die vlamme omgekom het nie, aangesien bome die omheiningsdrade platgeval het en die wild dus kon vlug. “Die huise is gelukkig nie gebrand nie, maar die polisie moes my skoonma-hulle van die plaas af kom haal, want my skoonpa was elders besig om brande te beveg.”

Maepa het gesê daar is die moontlikheid dat die brande weer kan opvlam weens die hittegolf wat tans in die provinsie ervaar word en daarom is Working on Fire deurentyd op ’n gereedheidgrondslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kathleen ·

Sterkte aan almal daar. Mag die reen gou kom. Dis baie skade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.