Derduisende hektaar verwoes ná weerlig tref

Weerlig het Donderdag ’n veldbrand in Barkly-Wes begin en na raming het tussen 30 000 en 40 000 ha in die slag gebly. Foto: Facebook.

Die moedeloosheid is duidelik in Jacques Kriek se stem hoorbaar as hy oor die afgelope 96 uur praat.

’n Weerligstraal het Donderdag ’n brand op die Mattanu-wildsplaas buite Barkly-Wes in die Noord-Kaap veroorsaak en die vlamme is deur sterk wind aangeblaas. Boere in die omgewing is sedertdien op ’n bykans permanente gereedheidsgrondslag om die weghol veldbrande te bestry.

Teen Maandagoggend het ongeveer 4 000 ha van Mattanu in die slag gebly, terwyl die boere in die distrik na raming altesaam tussen 30 000 en 40 000 ha verloor het.

Kriek, mede-eienaar van Mattanu, sê dat die brand teen Saterdag so te sê onder beheer was op sy plaas van 4 700 ha en dat hulle op ander plase gaan help het om die brande te beveg. Maar Sondag het die wind egter gedraai en skieilik was die wildsplaas se akkommodasie en ander geriewe – wat aanvanklik buite gevaar was – in gedrang.

“Ons het tot vanoggend (Maandag) 03:00 vure doodgeslaan en voorbrande gemaak. Ek is nou juis weer op pad om te gaan help. Ons het nog nóóit in die omgewing ’n vuur gesien wat só buite beheer geraak het nie,” sê hy.

“Ons kan nog nie ’n geldwaarde aan die skade koppel nie, want ons weet nie hoeveel opstalle, weiding en diere in die slag gebly het nie. Elke ou baklei maar op sy eie teen die natuur.”

Boere in die omgewing het hande gevat om die brande te bestry. Foto: Facebook.

Tog is hy dankbaar vir elke mede-boer, boerevereniging en individu wat kom help het om die brande op die plase te blus. Soos altyd vat die boeregemeenskap hande in tye van nood, sê hy.

Kriek meen dat die omgewing tot ’n rampgebied verklaar sal word en het ’n beroep op die die res van Suid-Afrika gedoen om die boere met lusernhulp by te staan.

Volgens die weerburo gaan die kwik in die Barkly-Wes-omgewing vandeesweek tot 36 °C styg en die wind kan snelhede van net minder as 40 km/h bereik. Daar is eers teen Saterdag ’n moontlikheid vir reën.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

GRIET ·

DALK…hou die talle uitspattige FREE FLOW WINE en gewuif parties, nou ook biki OP,op Matanu…en kom húlle aarde toe?

Maar baie sterkte en jammer vir almal se verlies

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.