Derduisende rande ingesamel vir slagoffers van plaasmoorde

Bennie Roux is ‘n ultramarathon-atleet (Foto: Verskaf)

Bennie Roux, die ultra-marathonatleet wat 220 km afgelê het vir AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid, het ongeveer R200 000 ingesamel deur die #HardloopvirHoop-veldtog.

Roux (41) het Sondag die marathon by Oranje-gasteplaas tussen Fouriesburg en Clarens afgesluit. Sy oogmerk was om geweldslagoffers – veral slagoffers van plaasaanvalle en -moorde – te ondersteun.

“Ek wou met hierdie projek bewusmaking oor plaasmoorde en -aanvalle skep en ook die erns van die trauma wat saam met hierdie gruwelmisdade gepaardgaan aan die publiek oordra,” sê Roux. Hy en sy span het die plase besoek van slagoffers wat ʼn plaasaanval oorleef het en met hulle gesels. “Hierdie projek het net weer die dapperheid geopenbaar van diegene wat plaasaanvalle moes deurmaak. Dit was egter ook weer ’n wekroep dat plaasaanvalle daadwerklik beveg moet word en ek hoop dat ons projek daartoe bygedra het,” sê Roux.

Johan Kloppers, #HardloopvirHoop-woordvoerder, sê AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid is stomgeslaan deur die publiek se ondersteuning, asook al die skenkings wat hulle ontvang het. “Hierdie projek het weer eens bewys dat ons mense vir mekaar omgee – daar is hoop waar ons saamstaan om ’n verskil te maak.”

Hy sê plaasaanvalle en -moorde is ’n krisis wat elke Suid-Afrikaner raak, want almal is van boere afhanklik.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê Roux en sy span se opoffering is inspirerend en gee hoop. “Hierdie projek is ’n voorbeeld van mense wat bereid is om hul talente aan te wend om ’n groter saak te dien. As elkeen van ons soos Bennie en sy span ons roeping uitleef en ons onderskeie gawes op verskillende terreine aanbied om krisisse in ons samelewing te pak, is geen uitdaging onoorkombaar nie.”

Die Trauma-ondersteuningseenheid lewer ’n unieke, persoonlike diens aan slagoffers van geweldmisdaad – veral slagoffers van plaasaanvalle. Die eenheid is in 2015 gestig en het sedertdien uitgebrei weens die toename in misdaad en veral plaasaanvalle. Die eenheid het al 238 mense ondersteun, waarvan 38 kinders is. Die eenheid verskaf ook kos aan behoeftige slagoffers en bied ondersteuning met byvoorbeeld basiese mediese uitdagings, die voorsiening van klere, ondersteuning tydens hofsake, die afneem van verklarings en in sekere gevalle, die nodige sielkundige ondersteuning.

Izel Kruger, projekkoördineerder van die ondersteuningseenheid, sê die geld gaan aangewend word om sekuriteit op sekere plase te help opskerp, beraders en sielkundiges te betaal, kos te koop vir slagoffers en te help betaal vir slagoffers se begrafnisse indien daar nie ʼn begrafnispolis is nie.

Mense kan steeds skenkings aan AfriForum se Trauma-ondersteuningsfonds maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Piet ·

Baie dankie en baie inspirerend. Bennie en Afriforum is n voorbeeld van wat naasteliefde beteken. Welgedaan.

JohanR ·

Geluk Bennie Roux en AfriForum. Dit wil gedoen word. Soos ek die Afrikaner ken was julle by al die plase met groot gasvryheid ontvang. As die Afrikaner nie sorg vir die Afrikaner, gaan hierdie nuttelose regering dit nie doen nie, veral in die geval van Suid Afrikaanse boere.

JP ·

Baie dankie vir jou Bennie, ek wil nie negatief wees nie, maar geen geld regverdig een van die gruweldade nie

Helpende Hand ·

Ek dink ons moet almal n bydrae maak vir alarm stelsels vir ons boere.

Andrea ·

En wat v bydraes vir sekuriteitsmaatskappye wat ontplooi word op die plase? Ek sal regtig maandeliks bydra daarvoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.