Derduisende sê hul sê oor e-tol

Argieffoto

Argieffoto

Die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) het Donderdag gesê hulle het meer as 117 000 voorleggings ontvang in reaksie op die voorgestelde regulasie wat motoriste sal dwing om verkeersboetes en e-tol te betaal.

Wayne Duvenhage, Outa se voorsitter, het gesê die reaksie was waarskynlik die grootste getal voorleggings wat al ooit deur die regering ontvang is op voorgestelde wetgewingwysigings wat in die Staatskoerant gepubliseer is.

Die regering beplan om die Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padoortredings (Aarto) te gebruik om e-tolskuld in te vorder deur onbetaalde e-tolrekeninge as ʼn oortreding van die Nasionale Verkeerswet te klassifiseer, kennisgewings aan motoriste te stuur deur gewone pos, e-pos of SMS en te aanvaar dat die kennisgewing ontvang is binne tien dae nadat dit gestuur is.

Indien ʼn motoris nie enige van hierdie dokumente ontvang nie en nie die agterstallige rekeninge en boetes betaal nie, sal ʼn afdwingingsbevel gestuur word saam met ʼn outomatiese instruksie dat die motoris verbied word om enige voertuiglisensie, bestuurslisensie of permit te hernu voordat die bedrag betaal is.

Duvenhage het gesê hierdie wysigings is ongrondwetlik en sal die administrasie van Aarto onwerkbaar maak. Hy het gewaarsku dat ʼn opstand teen die betalings van voertuiglisensies hoogs waarskynlik is.

Volgens Duvenhage is die oorweldigende deelname van die publiek ʼn teken van groeiende aktiewe burgerskap en ʼn reuse tree in die geveg teen die regering se pogings om motoriste te forseer om e-tol te betaal.

“Die regering het dit duidelik gemaak hulle maak gereed om die Aarto-wet en die Agentskap vir Padverkeersmisdrywe (RTIA) te gebruik om uitstaande e-tolskuld en boetes in te vorder,” het hy gesê. “Outa het ʼn uitgebreide strategie ontwikkel om sy lede te beskerm teen die regering se pogings om hul regte te onderdruk.”

Duvenhage het ook gesê Vusi Mona, Sanral se kommunikasiebestuurder, se uitsprake dat Outa se bekommernisse ongegrond is, is net ʼn poging om die erns van die gevolge van die wysigings as nietig af te maak. “As die regering voortgaan met hierdie belaglike wysigings, staan ons reg om hulle aan te vat,” het hy gesê.

Die sperdatum vir kommentaar op die wysigings was Woensdag. Daar word nou gewag op die regering se terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

DPJ ·

Slaag die regeering daar in om dit wel reg te kry is ondemokrasie tot ‘n einde. Sosialisme ons voorland

Piet Pompies ·

Knap gedaan Outa, te danke aan hulle en Maroela Media kon mense bloot deur die kontak te kliek ‘n vorm voltooi wat ‘n epos direk aan die regering stuur waar daar beswaar gemaak word teen die boete stelsel.

Henri ·

Baie dankie van my persoonlik aan Almal werksaam by OUTA, julle harde werk word waardeer.
Ek is ook dankbaar vir elke persoon individueel wat hand uit die mou gesteek het en vir wie dit nie te te veel moeite was om hul kant te bring om die teenkanting-syfers te behaal nie, dit gee my moed vir die toekoms van ons land, “Ons vir jou, Suid Afrika”

Johannes Meintjes ·

Die meganismes waarmee die burgery ongeretighede in SA kan teenstaan of omkeer is maar nog in ‘n embrio fase. Intussen gebruik die regering die tendens van ons bevolkings-lamsakkigheid om brutaal voort te stoom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.