Deregulering van brandstof ʼn voordeel vir almal

(Argieffoto: Paul Brennan/pixabay)

Solidariteit het fel kritiek gelewer teen rolspelers in die brandstof bedryf wat, volgens Solidariteit, poog om die publiek deur middel van dwaalaansprake te mislei en sodoende die deregulering van brandstof te stuit.

“Dit is regtig jammer om te sien dat sekere individue en groepe probeer om die deregulering van brandstof te diskrediteer met misleidende en onsamehangende argumente en syfers,” sê Theuns Du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI). “Binne die Suid-Afrikaanse konteks, waar armoede en werkloosheid ongelukkig bykans alomteenwoordig is, is dit totaal onaanvaarbaar en ondenkbaar dat sulke groeperinge steeds hul eie belange probeer bevorder ten koste van die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaanse burgers.”

Solidariteit verwerp verder enige aantygings of voorstelle dat hy deur sy aksies vyandig teenoor ondernemings in die bedryf optree en argumenteer dat die stelsel tans gebrekkig en nadelig vir verbruikers sowel as baie rolspelers in die waardeketting is.

“Sommiges met gevestigde belange in die voortsetting van hierdie sisteem wil ons in ‘n geveg teen kleinhandelaars dwing, terwyl ons eintlik probeer om die hele bedryf te hervorm, ten einde beter pryse en diens vir verbruikers te laat realiseer. Hulle laat dit klink asof deregulering kleinhandelaars van hul wins sal beroof, maar dit hoef geensins die geval te wees nie,” verduidelik Du Buisson.

“Die eintlike prioriteit is om aan die vulstasie-eienaar groter bedingingsmag by groothandelaars en brandstofvervaardigers te gee. Ons wil nie net kleinhandel dereguleer nie, maar die hele waardeketting. As hierdie proses reg bestuur word dan trek die vulstasie-eienaar sowel as die publiek voordeel uit deregulering.”

Solidariteit veroordeel enige groepe wat deur middel van oneerlike voorstellings hul eie belange probeer beskerm onder die dekmantel van die openbare belang.

“Die aanvanklike kritiek was dat deregulering pryse sal verhoog, eerder as verlaag. Dit was sommer vanuit die staanspoor snert, so nou het hulle besluit om eerder hul buitensporige winsgrense te verdedig. Die nuwe argument lui dat deregulering pryse tot so mate sal verlaag dat dit transformasie sal belemmer, omdat nuwe toetreders tot die mark nie hul lenings sal kan terugbetaal nie. Ons het dus hier te doen met groepe wat bereid is om alle geloofwaardigheid prys te gee ten einde hul selferkende buitensporige winste te beskerm,” voer Du Buisson aan.

Volgens Solidariteit bestaan daar geen regverdiging daarvoor dat 61 miljoen mense almal buitensporige pryse vir brandstof, en dus vir alles veral voedsel, moet betaal, sodat minder as 5000 vulstasie-eienaars teen kompetisie beskerm kan word en sodoende buitensporige winste kan geniet nie.

“Ons eis deregulering van die hele waardeketting. Die vulstasie-eienaar sal vir die eerste keer in staat wees om by sy leweransiers aan te dring op goedkoper insetkostes. Deregulering sal groothandelaars ook aanmoedig om hul aankope, storing en verkope beter te bestuur, nie net tot die verbruiker se voordeel nie, maar ook tot voordeel van hulself. Ons baklei vir vryheid vir almal in die bedryf, van die invoerder tot die eindverbruiker,” voeg Du Buisson by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frank ·

Nuwe intreders klink vir my so bietjie BEE’erig so dit verduidelik nogal heelwat

Onbesmetlik ·

Alles in ons land word deur die toksiese “heersers” beheer. Hulle is totaal dronk van magsbeheptheid en sal toesien dat die hele land ondergaan, solank hulle net kan plunder en hulle sakke volstop. Ek Bid vir die dag dat hulle boosheid in hulle eie gesigte sal opblaas. Ons buurlande, wat ook vanaf ons brandstof kry, se pryse is heelwat laer, omdat hulle nie die klomp “heffings” byvoeg nie!!!!

VaalDonkie ·

Ek stem nie saam nie. Want wat gaan gebeur is dat oom Ampie wat die enigste garage op Verlatendal besit, R50/liter gaan vra want wat gaan jy doen, 100km na die volgende dorp ry? Die prentjie is dalk anders in die stede waar daar ‘n garage op elke hoek is, maar daar waar een of ander ou ‘n monopolie op petrol verkope het, gaan dit kners.

Manie ·

Baie waar, maar oom Ampie is ook afhanklik van Verlatendal mense se ondersteuning, hy sal sy oë snags om die beurt moet laat slaap as hy te gulsig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.