Derek Hanekom se toekoms ‘intern hanteer’

Oudminister Derek Hanekom. (Skermgreep: Lubabalo Poswa/ANA)

Derek Hanekom, ANC-lid en oudminister van toerisme, se vergadering met die EFF in ʼn beweerde poging om oudpres. Jacob Zuma te ontsetel, is na die party se interne strukture vir “verdere opvolgwerk” verwys.

Die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, Jessie Duarte, het ná die vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gesê die party se top-bestuur het beveel dat sy amptenare ondersoek instel na die akkuraatheid van die bewerings teen Hanekom. ʼn Besluit sal daarna geneem word oor hoe om die kwessie verder te hanteer.

“Opvolgwerk in die ANC beteken nie om beskuldigings te maak sonder om iemand die geleentheid te gee om hulle kant van die saak te stel nie. Die bewerings is gemaak deur ʼn lid van ʼn opposisieparty [die EFF] en die NUK het ons beveel om die bewerings te ondersoek. Die kwessie kan dalk gaan na die komitee wat die stigting van klein partye ondersoek.

“Ons moet ook sê dat ons in geen stadium gesê het dat die komitee die sekretaris-generaal [Ace Magashule] ondersoek nie. Die komitee kyk na enige lid van die NUK en die ANC in die algemeen wat moontlik ʼn rol kon speel in die totstandkoming van ander politieke partye,” het Duarte gesê.

Hanekom het sy vergadering in 2017 met Godrich Gardee, die EFF se sekretaris-generaal, verdedig. Politieke partye, drukgroepe en die burgerlike samelewing het destyds geëis dat die beleërde oudpresident bedank.

Sommige lede in die regerende party het Hanekom verdedig en gesê die oudminister het in daardie stadium gedoen wat hy gedink het in landsbelang is.

Magashule het egter ʼn skerp bewoorde verklaring kort ná Hanekom se bekentenis oor die vergadering uitgereik. Hy het Hanekom ʼn “bedrieër” en ʼn EFF-agent genoem en hom beskuldig dat hy verdeeldheid in die party saai.

Op ʼn vraag of hy dié verklaring by die NUK-vergadering teruggetrek het, het Magashule gesê dit het nie ter sprake gekom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johann cb ·

Die agbare minister het afgetree! Hoekom bekommerd wees oor sy toekoms?

Hettie ·

En soos Julias EFF gesê het ,hy raak ontslae van wie hy wil ! En kry dit reg !

Schalk ·

Jy het gedink jy kan mede politikuste vertrou .Geen politikus kan vertrou word nie.Jy het geweet soos n Ronnie onder die bus sal jy beland net n geval van wanneer.Sorry jy het verkeerde mense vertrou.Jy moes prys betaal.

Gert van Wierdapark ·

Dis tyd dat die Ace man op Ys gesit word! Met soveel aantygings van Korrupsie ens teen hom, het sy astrantheid skynbaar nie einde nie! Dis tyd dat sy Bluff geroep word, al speel hy met ‘n “gelaaide pak wat mos VYF Ase in het!! Iemand moet maar’ n ” Joker” ingooi om die kaarte deurmekaar te krap?

Mpimpi ·

En wat is problematies vir Ace met die totstandloming van nuwe partye of partytjies.? Ek sou reken dit is soos ‘n gesonde demokratiese stelsel MOET werk. M.a.w dit is onwettig oftewel doodsonde om DIE PARTY teen te staan.?
Dit bewys net die man is ‘n uiters ongenaakbare en gevaarlike diktaror. Hy moet TEN ALLE koste weggehou word van ‘n bestuursposisie in die staatsektor.!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.