Derick sê in dokkie oor media, modelle en medikasie

Derick Hougaard gesels in ‘Hougaard: Liefling van Loftus’ oor sy rugbyloopbaan en persoonlike reis. (Foto: Skermgreep)

Toe Rian van Heerden en sy filmspan by Derick Hougaard se deur opdaag vir nog ʼn onderhoud vir vanaand se episode van sy aangrypende dokumentêre reeks, Hougaard: Die Liefling van Loftus, moes hulle ʼn driekwartier wag voordat ʼn deur-die-blare Derick uiteindelik die deur oopgemaak het.

Sy spraak was onsamehangend en later vertel hy van ʼn ontstellende oproep van ʼn “vriendin” wat hom slaap- en pynpille laat drink het. Hy kon glo nie aan die slaap raak nie. Sy het hom na bewering gedreig met ʼn jaar lange opname in ʼn gestig.

Rian was nie onsimpatiek nie, maar hy was beslis baie ferm met Derick tydens dié onderhoud.

“Vergeet van Liefling. Wie is Derick? Want Liefling is nie meer met ons nie,” het hy aan hom gesê.

Hy wou ook weet hoekom Derick medikasie inspan. Volgens Derick is dit die alleenheid wat hom daartoe gedryf het om tot 10 slaappille per dag te gebruik. Rugby, die miskraam en hy het sy kinders se grootword gemis: “Dis stolen, dis gone, dis weg …”

Derick Hougaard was eens die Liefling van Loftus, maar hy is plettergevat deur sy eie demone ná ʼn ingrypende besering op die rugbyveld. Wat gevolg het, was skandale, slaappille, hofsake, en die blaam op die media.

Rian se reeks neem die lewe van die wonderkind van Piketberg wat die rugbywêreld aan sy skopvoet gehad het, onder die loep, en die reeks is sedert Oktober op kykNET te sien.

Die jongste episode, wat Woensdagaand uitgesaai is, is ʼn allegaartjie van openhartigheid, ontkenning en ʼn soeke na homself – ʼn reis gevul met rugby en seerkry. Rian hou nie terug wanneer hy ʼn verwese Derick met in-diepte vrae konfronteer nie.

Die reeks, wat uit ses episodes bestaan, vertel die verhaal van die puntemasjien wat ʼn gebroke man geword het, een wat meer oor die verkeerde redes in die media verskyn as wat hy in sy gloriedae op die rugbyveld was.

Volksbesit

Meer as 21 jaar nadat Derick as 19-jarige vir die Bloubulle uitgedraf het, word hy steeds as volksbesit beskou.

Derick erken Pretoria was goed vir hom en dat hy die plek selfs koester, maar die prys wat hy moes betaal het, het hom heeltemal van stryk gebring. Daaroor is hy bitter, vertel hy vir Rian.

Oud-Son en Sondag-joernalis Yolanda Barnard-Lemmer onthou Derick as ʼn jong rugbyspeler: die naïewe outjie van die platteland wat nie van drank en dwelms geweet het nie, maar een wat baie gou byna elke ander dag met ʼn nuwe model aan die arm gepryk het.

Dié prentjie het gou verander toe hy vir Saracens teen Leinster in ʼn Heineken-bekerwedstryd in die Wembley-stadion uitgedraf het. Sal hy ooit daardie knakgeluid van sy Achilles kan vergeet wat die einde van sy dae as rugbyspeler beteken het?

Die einde van ʼn sprokie

Derick en die popsangeres Karlien van Jaarsveld is in Maart 2013 getroud. Dié romanse is van die begin af oomblik-vir-oomblik deur die media verkondig en deur hulle aanhangers verslind.

Die huwelik tussen Derick en Karlien, waartydens ʼn tweelingseuns gebore is en die egpaar ʼn miskraam op 19 weke moes verwerk, het egter op die rotse geloop.

Kort ná hul egskeiding het die sangeres Nádine saam met Derick op die toneel verskyn, iemand vir wie hy baie respek het. Volgens hom dink hy nie “sy het [in vyf jaar] al ʼn foto van my gepost nie, wat my laat voel soos ʼn p**pol, maar dit is net [hoe] privaat sy haar verhoudings sien”.

Die media

Derick blameer die media vir baie van die harde lesse wat hy geleer het. Hy is spyt hy het nie 15 jaar gelede na oud-Springbok en SuperSport-omroeper, Naas Botha, geluister nie. Dié het gesê hy moet net altyd “no comment” sê as hy deur die media om kommentaar genader word.

Derick ontken ook wat in die media verskyn het, want hy voer aan dat alles waaroor hy met die joernaliste “soos grootmense” gesels het, nooit geskryf is nie.

Oud-rugbyspelers

Rian het by verskeie oud-spanmaats en oud-Springbokke gaan inloer om uit te vind hoe hulle die einde van hul rugbyloopbane ervaar het. “Ek staan op en ek gaan werk”, het oud-Bloubul Frikkie Welsh gesê, en dit was die oorwegende terugvoer. O ja, en die rugbybaadjies bly in die kas as jy vir oulaas van die veld af is.

Kyk Hougaard Woensdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of kyk dit op DStv Stream.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Zollie ·

Neem verantwoordelikheid vir jou eie keuses en hou op om ander die skuld te gee.

Impact ·

Baie maklik om te praat maar as jy depressie het kom jy nie net uit die gat uit nie, al wil jy hoe graag ook. Soms moet mens net bietjie jou tong agter jou tande jou voordat jy iemand veroordeel. Die media is ook hier te blameer want hulle is soos aasvoels oor hierdie mense se lewe. Zollie wees dankbaar vir wat jy het, en bid eerder vir Derick vir genesing – dan doen jy ten minste iets goeds.

vuurvliegie ·

Impact stem saam met wat jy sê maar Zollie het ook ‘n punt beet. Mense met depressie moet hulp kry. Deriek kies nog steeds om ‘n dokumentere reeks te maak waar hy baie kwesbaar is waar goed en kwaad gaan uitkom. Dis die verkeerde besluit vir iemand wat depressie het. Dit alles net vir geld want hy sal dit nie verniet doen nie. Veral ‘n sportman wat aan depressie ly moet alle media en sensasie vermy totdat hy homself gevind het wat jare duur.

Alexander ·

Jy sal verbaas wees watse impak ander mense op ‘n mens se lewe, selfbeeld en keuses kan hê.

Wikkie ·

Ek stem saam met Impact. Eerstens kies niemand om in depressie te verval nie. En mense wat aan depressie ly kom glad nie maklik daaruit nie. Ek praat uit eertehandse ondervinding. Indien daar wel mense is wat dit maklik oorkom het, is hulle die uitsondering. Maar ek self en vele ander mense weet hoe bitter moeilik dit is.

Wanneer ‘n mens ‘n publieke figuur is en die media op jou skandes teer, sodat die wêreld jou kan oordeel en jou herhaaldelik daarvoor kan kruisig, help dit niks om uit jou donker gat te kom nie. Inteendeel….

Elkeen van ons ken iemand wat een-of-ander skande het. En ek verstout my om te sê dat nie enige van ons op hierdie bladsy nie sonder ons eie geraamtes in ons eie kaste is nie.

Verbeel jou die media versprei wyd-en-suid jou eie sondes, of jou alkoholis-pa se sondes, of jou dwelverslaafde-sussie se sondes, of jou broer wat sy vrou geslaan het se sondes. En dan kom die hele wêreld daarvan te kenne en oordeel daardie geliefde van jou oor-en-oor.

Maar hier sit ons en oordeel die publieke figure asof ons in glashuise woon.

Hendrik ·

Nou wat maak hom nou so spesiaal dat hy “Liefling van Loftus” genoem word? Vergeet van Lotus en gee ag daarop dat jy jou roeping versaak om Liefling op vele ander gebiede te wees.

Ore ·

Hendrik, as jy rugby volg en die program kyk sal jy verstaan waar die bynaam van Liefling kom. Die Blou Bul ondersteuners het die naam vir hom gegee. Niks maak hom spesiaal nie….Danie Gerber staan bekend as die Doring van Despatch en Pieter- Steph du Toit is nou die Missiel van Malmesury. Derick sal opstaan en sterker aan die anderkant uitkom.

Hennie Biebouw ·

Jy kyk nie baie rugby nie, né? Die ‘Liefling” naam het sy oorsprong op Loftus gekry, toe die stadion elke keer wanneer hy punte aangeteken het, Steve Hofmeyr se weergawe van wyle Gé Korsten se “Liefling” vir hom gespeel het. Maar uiteraard sukkel die knaap om die verlore faam te verwerk.

Wikkie ·

Dankie aan ore. Jy kon dit nie beter aan hendrik gestel het nie.

Ore ·

Ek kry hom jammer. Diegene wat nog nie die hel van depressie is moet asb nie oordeel nie. Nie almal is sterk genoeg aanslag tot aanslag van die lewe te oorkom nie.My respek vir Danie Gerber nog hoër. Nie net kon hy sy emosies wys nie maar die boodskap aan Derick is merkwaardig. Ja, hy het foute gemaak maar so what? Ek lig ook my hoed vir Riaan wat reguit met hom kon praat maar deernis en begrip vir Derick toon. En moet ook nie Nadine se ondersteuning vergeet nie. Sterkte Derick. Jy is nog jonk en glo ek dat jy jou lewe in orde sal / kan kry

Republikein in die Wes Kaap ·

Chronic Traumatic Encephalopathy. Die simptome is duidelik. SA Rugby moet hier help.

Juanita ·

As jy nie ‘n dag in sy skoene geloop het nie is dit nie jou plek om te oordeel nie. Ek is glad nie ‘n aanhanger nie maar ek het empatie.

Althes ·

Ek het nie die hele episode gekyk nie en is dalk bevooroordeeld. Baie mense gaan deur geweldige trauma en struikelblokke op struikelblokke. Tog staan hul eendag op en gaan aan. Dit help natuurlik dat jy in jou Hemelse Vader glo soos wat jy aan jou volgende asem glo. Mense wie diep gelowig is, sal byvoorbeeld nie sommer selfmoord pleeg nie.
Nietemin Derick het gekies om hierdie onderhoude te doen en nog steeds blameer hy die media – tog stel hy hom oop vir die media.
Miskien moet hy eerder Kaap toe verhuis as om in sak in as te sit dat hy nie ñ ondersteuningstelsel het in Gauteng nie.

Alexander ·

Jammer maar daar is baie Christene wat selfmoord pleeg… net soos wat daar baie Ateïste en so is wat nie :)

Daniel ·

Derick moes op eerste plek by sy ouerhuis gebly het na die harde val… los die wilde Pretoria! Jou naaste mense op vreedsame Piketberg dra jou elke dag… erken jou eie swakpunt soos elkeen het dit… Wees arm, min van alles en nederigheid verlos die pyn van aardse rykdom, materialisme, trots en hoogmoed. Tyd sal leer om lig in jou hart weer te skyn.

Onthou die arm, ou wyse man se woorde… Bly altyd hoop en geloof in onse Vader onder alle omstandighede!

hpven ·

Derick sluit so spoedig moontlik by ‘n militêre veteraan groep aan. As jy nie ‘n soldaat was nie, sluit as ‘n vriend aan en begin kuier saam hulle. Ons oud soldate kuier, lag en ja huil soms saam. Die belangrikste ons is daar vir mekaar en tel die wat val weer op en leer hulle weer loop. Die weer loop is baie belangrik! Ons ondersteun mekaar en keer mekaar nie die rug nie. Baie van ons is steeds by militêre bedrywighede betrokke soos reserwemag of PMC’s. Ons kyk rugby en vergeet ook nie oud rugbyspelers! Die deursettings vermoë wat jou tops in rugby gemaak het is steeds daar! Aktiveer dit net weer en sê ek is terug! Ons het almal spoke maar ons is daar vir mekaar, want al wat ons het is mekaar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.