Deurbraak gemaak in rits Kaapstad-moorde

(Foto: SA Polisie)

Vier persone is Sondag in Cofimvaba in die Oos-Kaap in hegtenis geneem tydens ʼn ondersoek oor ʼn rits moorde in informele nedersettings in Kaapstad.

Brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn omvattende ondersoek deur Wes-Kaapse speurders, met die ondersteuning van misdaadintelligensie en die Oos-Kaapse polisie, het tot die inhegtenisnemings gelei. “Die verdagtes, tussen 23 en 26 jaar oud, is op die R61-roete tussen Cofimvaba en Queenstown aangekeer. Hulle is tans in aanhouding in die Oos-Kaap,” het Potelwa bygevoeg.

In hierdie stadium van die ondersoek word die verdagtes met die volgende sake verbind:

  • Philippi-Oos waar twee persone in Junie vermoor is
  • Philippi-Oos waar twee persone in Julie doodgeskiet is
  • Gugulethu NY 108 waar drie persone in Junie vermoor is
  • Philippi-Oos (Blok 4, Lower Crossroads) waar vyf persone in Junie dood is en een persoon beseer is

“Daar word tans reëlings getref om die verdagtes na Kaapstad terug te bring waar hulle na verwagting binnekort in die hof sal verskyn,” het Potelwa gesê.

Vier ander persone wat in Julie 2020 in hegtenis geneem is vir verskeie moorde in Philippi-Oos sal intussen op 11 November 2020 in die Athlone-landdroshof verskyn.

“Soos wat die ondersoek voortduur, word die moontlikheid nie uitgesluit dat die persone, wat in hegtenis geneem is, ook met ander moordsake verbind kan word nie.”

Lt.genl. Yolisa Matakata, Wes-Kaapse polisiekommissaris, het die toewyding van die betrokke polisiebeamptes geloof. “Alhoewel die inhegtenisnemings ʼn beduidende mylpaal verteenwoordig in die ondersoek, is ek vol vertroue dat die span se onverbiddelike pogings selfs nog meer vrug gaan dra om ernstige gewelddadige misdade uit te roei,” het Matakata gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Die Anc het met n doel voor oe die mense van die Oos Kaap ingevoer….my mening

Casper ·

Hierdie mense word verdink van 12 moorde en moontlik ander misdade.Wanneer is jy ‘n reeksmoordenaar.Word ‘n reeksmoordenaar se straf anders bepaal as die gewone moordenaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.