Deurbraak gemaak met R4 miljoen se dwelmvonds in Limpopo

(Foto: SAPD/Limpopo)

Twee persone is Vrydagmiddag in Polokwane in hegtenis geneem en beamptes het beslag gelê op dwelmmiddels ter waarde van meer as R4 miljoen.

“Die polisie het inligting ontvang oor vermeende dwelmhandelaars in Thornhill,” sê brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie. “Met hul aankoms het hulle ʼn 24-jarige vrou aangetref en toe hulle die huis deursoek, het hulle op heroïen en metamfetamien ter waarde van R4,2 miljoen afgekom.”

ʼn Uitlander, vermoedelik die vrou se kêrel, het glo van die toneel gevlug toe hy besef beamptes gaan op die perseel toeslaan.

“Die beamptes is na ʼn volgende huis in dieselfde landgoed en ʼn 50-jarige man is hier in hegtenis geneem. Dwelmmiddels ter waarde van meer as R400 000 is gevind. Die beamptes het ook die man se motor geskut.”

Genl.maj. Jan Scheepers, waarnemende polisiekommissaris, het saam met die adjunk-polisiekommisaris die toneel besoek. Hy het die beamptes geloof vir hul vinnige reaksie op die inligting wat ontvang is.

“Dit is ʼn groot deurbraak. Die polisie in die provinsie sal voortgaan om dwelmhandelaars te teiken om die mense in Limpopo se lewens te red,” het Scheepers gesê.

Mavhungu Lerule-Ramakhanya het, tydens die vrystelling van die provinsiale misdaadstatistieke vir die derde kwartaal van die 2021/22- finansiële jaar die behoefte benadruk dat strategieë verskerp moet word om dwelmsindikate in die provinsie uit te roei, het Scheepers bygevoeg.

Die verdagtes, wat in hegtenis geneem is, sal Maandag in die Polokwane-landdroshof verskyn. Nog inhegtenisnemings word verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tandjies ·

Ek wonder wat dit vat vir polisie om ń huis so in te gaan want daar is ń huis in Pretoria-Noord wat groot kommer wek. En hy staan al lank daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.