Deurbraak gemaak ná meisie aan die brand gesteek is

Jacqueline Mpontsana (Foto: Jacqueline Mpontsana/Facebook)

Albert Fritz, die Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, het die inhegtenisneming van Lwazi Sibindana verwelkom. Sibindana word daarvan verdink dat hy Jacqueline Mpontsana vermoor het deur haar in September verlede jaar tydens huishoudelike geweld aan die brand te steek.

Mpontsana, of Jacque soos wat sy bekendgestaan het, het vir die departement gewerk in die direktoraat monitering en evaluasie. Deel van haar verpligtinge was om polisiestasies te assesseer vir nakoming aan die Wet op Huishoudelike Geweld.

Sy word onder andere oorleef deur haar dogter, wat vanjaar met hoërskool begin het.

“Ons is beroof van ʼn ma, ʼn dogter, ʼn suster, ʼn niggie, ʼn vriendin en ʼn kollega op die ergste manier moontlik,” sê Fritz. “Niks kan gedoen word om Jacque terug te bring nie. Ons is dankbaar vir die deurbraak dat iemand in hegtenis geneem is. Op een vlak bring geregtigheid klein bietjie troos.”

Fritz sê die hoof van sy departement, adv. Yashina Pillay, het aangedui die verdagte is in Khayelitsha in hegtenis geneem. Pillay het ook die hofmoniteringseenheid versoek om verdere inligting te bekom en die saak nou te volg.

“Namens die departement van gemeenskapsveiligheid wil ek graag die Suid-Afrikaanse Polisiediens bedank vir hul werk in dié saak. Ons sal vir hulle die nodige ondersteuning gee om seker te maak ʼn deeglike ondersoek word uitgevoer. Die Wes-Kaap is ʼn provinsie van wet en orde. Ons is verenig in ons toewyding om seker te maak dat oortreders van geweld, veral geslagsgebaseerde geweld, die gevolge dra van hul oortredings.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Christine ·

Ag nee, die wreedaardigheid van sekere mense in Suid-Afrika, maak mens moedeloos. Sê jou sê, maar om hemelsnaam, is dit nodig om die vrou aan die brand te steek? Wat het geword van draai om en loop weg?

Swerwer ·

Alles te danke aan die ANC kader. Hierdie is ‘n duidelike bewys waarom dissipline deur die ANC weggeneem is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.