Die polisie het ’n deurbraak gemaak in een van minstens drie moorde wat verband hou met die mynmaatskappy Richards Bay Minerals (RBM).
Omega Khulani Ngubane (40) is Dinsdag in hegtenis geneem in verband met die moord op Judia Mbuyazi (48) wat in Julie 2020 by ’n winkelsentrum in Richardsbaai doodgeskiet is.
Dié inhegtenisneming volg nadat ’n span onder die polisie se provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad in Junie verlede jaar op die been gebring is om spesifiek voorvalle te ondersoek waar mense wat met RBM verbind word, geteiken is.
“Die voorval waartydens Mbuyazi vermoor is, was onder dié sake,” sê kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder.
Maroela Media het vroeër berig oor twee moorde wat verbind word met RBM. Dit sluit in die moord op die destydse bedryfshoof Nico Swart (47) wat in Mei verlede jaar op pad werk toe in sy motor in Meerensee doodgeskiet is.
Swart was ook nie die eerste hoë van dié maatskappy wat onder soortgelyke omstandighede dood is nie. Ronny Nzimande, destydse menslikehulpbronbestuurder van RBM, is in 2016 in sy motor voor sy huis in Pipe Fishweg geskiet. Hy het ʼn dag later in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Mbele het nie bekend gemaak hoe Mbuyazi met RBM verbind word nie.
Sy het wel gesê die inhegtenisneming het baie harde werk en toewyding onder uiters moeilike omstandighede van die ondersoekspan geverg en nóg inhegtenisnemings kan verwag word.
Ngubane het sedert sy inhegtenisneming in die landdroshof in Richardsbaai verskyn voordat die saak tot Dinsdag uitgestel is. Hy sal na verwagting dan aansoek om borgtog doen.
Ngubane sal intussen geprofileer word om vas te stel of hy verbind kan word met enige van die ander sake wat deur die span ondersoek word.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
1 Kommentaar
Dankie tog daar is vordering. Mag ieder en elk wat betrokke is by die sinnelose moorde boet vir hul dade.