Deurbraak in Groblersdal-moord

Raymond Gregory Papapavlou en sy vrou. (Foto: Facebook)

ʼn Persoon wat glo na is aan Raymond Papapavlou (28) wat vroeër die maand op ʼn plaas by Groblersdal in Limpopo doodgeskiet is, is in hegtenis geneem in verband met sy moord.

Volgens Bosveld-misdaadondersoeke (BMO) is die verdagte Dinsdag in Kempton Park in hegtenis geneem. Die verdagte is glo na aan Raymond en sy vrou, Simone, en sal na verwagting Donderdag in die Groblersdal-landdroshof verskyn.

BMO het vroeër ʼn beloning van R15 000 uitgeloof vir inligting wat sal lei tot die inhegtenisneming en vervolging van die mens of mense verantwoordelik vir die moord op Papapavlou.

Papapavlou is in die vroeë oggendure van 5 Oktober met verskeie skietwonde in ʼn plaashuis tussen Stofberg en Groblersdal aangetref.

Polisiebeamptes is na die plaas Frischgewagt ontbied waar Papapavlou se liggaam in een van die vertrekke in die plaashuis aangetref is.

Papapavlou se vrou en ander gemeenskapslede was met die polisie se aankoms op die toneel.

Gemeenskapslede het glo vroeër die aand ʼn veldbrand op die betrokke plaas geblus toe die oproep Sondagaand voor middernag van Papapavlou se vrou deurgekom het dat haar man in die plaashuis op dié plaas doodgeskiet is.

Papapavlou se vrou het glo op die toneel verduidelik dat sy op ʼn rusbank saam met die egpaar se hond in die een vertrek geslaap het en Papapavlou in ʼn ander.

Volgens haar het die aanvallers moontlik toegang tot die huis deur ʼn venster gekry waarna sy na bewering wakker geword het van vyf skote. Sy het toe glo self sewe skote met haar vuurwapen afgevuur om die aanvallers te verjaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.