Deurbraak in Hillary Gardee se moordsaak

Hillary Gardee. (Foto: Verskaf)

Die provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, het ʼn deurbraak verwelkom in die ondersoek na die moord op Hillary Gardee.

“Ons het reeds een manlike verdagte by Schoemansdal in Nkomazi in hegtenis geneem binne die 72 uur wat ons gegee is. Ons glo dat ons die regte verdagte het en ons sien uit na nog inhegtenisnemings soos wat die ondersoek ontvou,” het Manamela gesê.

Kol. Donald Mdhluli, woordvoerder van die polisie, sê die span het onverpoosd gewerk om die saak op te los. “ʼn 39-jarige man is Vrydag in Schoemansdal, waar hy weggekruip het, gevind.”

Mdhluli sê die span moes onder druk werk “terwyl die land en die wêreld hulle met verwagting dopgehou het”. “Die mans en vroue in blou het kundig hul plig uitgevoer van die oomblik toe die liggaam buite Nelspruit gevind is en ʼn spoor van bewyse gevolg wat tot die inhegtenisneming gelei het.”

Bheki Cele, polisieminister, en Fanie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het die misdaadtoneel Dinsdag saam met ander amptenare besoek. (Foto: Twitter / @LirandzuThemba)

Die man staan tereg op aanklag van moord en nog klagtes kan bygevoeg word soos wat die ondersoek vorder. Hy sal na verwagting Maandag in die Nelspruit-landdroshof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Hillary se liggaam is op 3 Mei buite Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga aangetref. Sy is Vrydag (29 April 2022) laas by die Spar-supermark in dié dorp gesien. Die 28-jarige vrou is in die agterkop geskiet en daar is R1 300 uit haar bankrekening onttrek in die ure nadat sy vermis geraak het. Sy het dieselfde klere as die dag van haar verdwyning aangehad.

Hillary is die dogter Godrich Gardee, voormalige sekretaris van die EFF.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.