Deurbraak in Kelly Bain-moord

Kelly Bain. (Foto: Facebook)

ʼn Verdagte in die moord op Kelly Bain (26), die jong ma wat in Julie verlede jaar helder oordag in haar huis in Kabegapark in Port Elizabeth vermoor is, is Sondag in hegtenis geneem.

Die 27-jarige verdagte, glo ook betrokke by ʼn onverwante moord in April verlede jaar, kon ná ’n maande lange ondersoek eindelik deur middel van sy DNS aan Bain se moord verbind word.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het die verdagte reeds Maandag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn op agt aanklagte van huisroof wat glo tussen Maart en Julie 2018 in Kabegapark, Humewood en die Mount Road-gebied gepleeg is. Hy het ook op aanklag van die moord op Bain verskyn.

Naidu sê die verdagte is reeds op 12 September deur die polisie ondervra nadat die polisie twee verdagte mans in die Charlo-omgewing gewaar het. Die twee mans kon glo nie ʼn verduideliking bied waarom hul hulself in die gebied, wat gereeld onder huisroof deurloop, bevind nie. Die verdagtes is gevolglik aangekeer vir verdere ondervraging.

Die verdagte in die Bain-saak het egter uit die polisiestasie ontsnap terwyl ʼn polisiebeampte besig was om vingerafdrukke na te gaan en was sedertdien voortvlugtend.

Die deurbraak het egter op 3 Oktober gekom toe die plaaslike polisie inligting ontvang het waarna die verdagte in die sakesentrum in Aliwal-Noord in die Oos-Kaap vasgetrek is.

Volgens Naidu kon die verdagte sedertdien deur forensiese bewyse ook positief verbind word aan die roof en moord op Ann Smit (86) in Kammapark verlede Mei. Die verdagte het reeds vir dié moord in die hof verskyn en sal binnekort weer verskyn.

ʼn Klag van ontsnapping uit polisie-aanhouding is ook intussen teen hom gemaak. Die verdagte is ook voorheen skuldig bevind aan 12 aanklagte van huisroof en diefstal sedert 2007.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het gesê die polisie sal nou saamwerk met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om ʼn gepaste straf toe te dien.

Bain is in haar huis aangeval waarna sy op die slaapkamervloer aangetref is met steekwonde aan haar nek en arm. Sy het op die toneel gesterf. Haar een maand oue babadogtertjie was in die huis ten tyde van die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Helen ·

Dit is ‘n gewoonte misdadiger en gepaste vonnis behoort lewenslank sonder die opsie van parool te wees. Hy het begin met gewone diefstal wat ge-eskuleer het tot moord op 2 dames. Hoop die NVG kom tot die gevolgtrekking as gepsste straf.

Hoeveel moorde nog? ·

Sjoe hierdie gemors het sommer al vir baie dinge vrygeloop, mag hy nooit weer daglig sien nie!!

Mia ·

Hy is ‘n gewoonte misdadiger. Ek wonder hoe lank is sy lys van misdade? en hoe kon hy vrylik tussen gewone mense rond beweeg het

Manie ·

Maklik, as misdadiger het hy mos darem meer regte as gewone mense en as GOD wat nie eens in die grondwet mag wees nie

marous ·

Daar is mos ‘n prokureur in PE wat gedy op hierdie tipe sake . Hier is sy kans om nog ‘n vet slag te slaan ….

Donderstorm ·

Dankie Here en dankie aan die mense wie werk op dia saak goeie werk.

P G Slabbert ·

As die maaksel gepaste straf in die eerste plek gekry het , was daar nie hierdie moorde gepleeg ! Hoeveel ander gevalle is ook deur dit gepleeg ? Hy moes in die tronk gewees het !

Annelise ·

Hoekom was hierdie vaagsel nie in die tronk nie!? Die staat het deel aan hierdie moord!

Tammy ·

Dankie aan die ondersoekspan vir uitstekende werk. Dis bitter harde werk wat hier gedoen is om die man te vang, hoop net nie die reg laat weereens die publiek in die steek om hom vir een of ander “versagtende omstandighede” of dalk n vonnis wat gelyklopend uitgedien word te gee nie. Dis totaal belaglik om alewig hoeveel sake te ondersoek en dan tot die gevolgtrekking te kom om al die vonnisse gelyklopend uit te dien. Waar op aarde kom die nuwigheid vandaan……….? Vermorsing van kosbare tyd en geld. Lewenslank SONDER opsie van parool want hy is gebore vir misdaad, dis sy speletjie..cathch me if you can!!!

Manie ·

Nee, publiek sal versaak word maar hy moet hoor aan jou nek sal jy hang tot jy dood, al gepaste straf. Oog vir n oog en lewe vir lewe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.