Deurbraak in NWU-man se moord

Die vermoorde Sam Mbatha. (Foto: Sam Junior Mbatha/Facebook)

Vier mans wat glo ʼn hand daarin gehad het om ʼn werknemer van die Noordwes-Universiteit (NWU) verlede jaar wreedaardig te vermoor, het eindelik in die hof verskyn.

Dit volg nadat die identiteit van die verkoolde liggaam maande lank onbekend gebly het. Die polisie het eers verlede week die DNS-resultate van die slagoffer bekend gemaak en dit is toe dat die stukke van dié raaiselagtige legkaart in plek begin val het.

Die liggaam van ʼn onbekende man is in Junie verlede jaar in ʼn uitgebrande Hyundai i20 by ʼn sokkerveld in die Ikageng-afdeling van Klipgat gevind. Die slagoffer was onherkenbaar verbrand.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, het verlede week aangekondig dat die DNS-resultate van die slagoffer eindelik bekend is.

Die slagoffer is geïdentifiseer as Sam Junior Mbatha (24) wat vir die NWU van die Mahikeng-kampus se afdeling vir korporatiewe verhoudinge en bemarking gewerk het.

Hoewel die identiteit van Mbatha nie destyds met sy moord bekend was nie, het polisie nietemin die leidrade gevolg wat hulle na ʼn huis in Phutha, Klipgat, gelei het.

“Die huis is deursoek en in een van die slaapkamers is bloed op die vloer, bo en onder die bed, asook op die mat aangetref,” sê sy.

“ʼn Byl wat vermoedelik tydens die moord gebruik is, is op die dak van die huis gevind.”

Myburgh sê ná die grusame ontdekking en ʼn intensiewe ondersoek het die polisie daarin geslaag om vier verdagtes in verband met Mbatha se moord in hegtenis te neem.

Volgens Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, het Arthur Khoza (19), Junior Modise (21), Mahlatsi Nkuna (21) en Thato Masetla (22) Dinsdag in die Ga-Rankuwa-landdroshof verskyn op aanklagte van moord.

Khoza, Modise en Nkuna is borgtog van R500 elk toegestaan, terwyl Masetla nie vir borgtog aansoek gedoen het nie.

Die vier se saak is tot 2 Februarie uitgestel terwyl die staat wag op die direkteur van openbare vervolging se magtiging om die saak na die hooggeregshof van die Noordwes-afdeling te skuif.

“Die saak sal moontlik geskuif word weens die ernstige aard van die oortreding wat gepleeg is,” sê Mamothame.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kobus

Borgtog vir moordenaars? R500? Dit is die rede waarom SA in totale anargie verval het. Misdadigers is kroonwild. Geen gevolge, dalk sal vervolging oor 4 jaar begin.

Marius

Borgtog aan moordenaars. Ons regstelsel is ‘n grap.

Diline

Hierdie sinnelose moorde sal NOOIT ophou in hierdie land indien daar nie swaarder strawwe opgele word OF die doodstraf terug gebring word nie. Kan nie glo dat “sekere mense” moord kan pleeg sonder om ‘n oog te knip nie, WREEDAARDS met GEEN doel in die lewe nie.

Swerwer

Borgtog toegestaan nadat hul ‘n onskuldige man wreedaardig vermoor en toe verbrand het. Genade en dan beskerm die President nog die korrupte regstelsel ook! Wys jou maar net dat daar geen salf te smeer is aan kommunisme nie, hul het nie eens respek vir hul eie mense nie.

Elize

Met die polisie se begroting wat nou met miljarde geknip word gaan dinge net erger raak.