Deurbraak in ondersoek ná moord op Pta-man

Jaco Geldenhuys se liggaam is vroeër die maand gevind nadat hy spoorloos verdwyn het.

Toe Jaco Geldenhuys vroeër vandeesmaand spoorloos verdwyn het, het sy geliefdes dadelik besef daar is groot fout.

En ten spyte van ʼn aanvanklike opdraande stryd om die Cullinan-polisie te oortuig om die soektog na Jaco met dringendheid te hanteer, het sy familie onophoudelik gewerk om die legkaartstukke van sy verdwyning – en toe sy moord – aanmekaar te sit.

Dit was danksy dié deursettingsvermoë dat ʼn verdagte nou vir die moord op Jaco in hegtenis geneem is.

Die 32-jarige Jaco, ʼn pakhuisbestuurder van Pretoria wat in sy vrye tyd ook motorherstelwerk doen, het op 14 Julie spoorloos verdwyn nadat ʼn man hom gevra het om herstelwerk op ʼn perseel naby Cullinan te gaan doen. Jaco ken ʼn vriendin van dié man.

Nadat hy dié aand nie huis toe gekom het nie en die volgende dag ook nie by die werk opgedaag het nie, het sy geliefdes dadelik alarm gemaak.

Jaco Geldenhuys (links) en sy broers Deon (middel), Neil en Neil se vrou Elmien.

Jaco se broer Deon sê nadat hulle oor sy verdwyning ingelig is, het hulle dadelik self na hom begin soek. Jaco het altyd sy adres aan sy vriendin, Justene Koekemoer, gestuur – in dié geval weer – en hulle kon die inligting gebruik om hom te probeer opspoor.

By die adres waar Jaco die herstelwerk sou doen, was daar egter geen spoor van hom nie. ʼn Wit bakkie het voor ʼn stoor gestaan, maar daar was nie enige teken van lewe nie. Deon sê hulle is na die Cullinan-polisie om dié te oortuig om saam met hulle terug te keer en behoorlik na Jaco te soek.

Dít was bykans ʼn onbegonne taak, sê hy, en dit het ure geduur voor hulle ʼn polisiebeampte kon oortuig om ʼn saak aanhangig te maak.

Deon sê ná ʼn wenk het hulle Jaco se motor Donderdag by die Tshwane China-winkelsentrum aangetref. Dit was stowwerig en vuil, heeltemal ongewoon vir Jaco met sy groot liefde vir motors, maar ook dáár was geen teken van hom nie. Sy foon en beursie was wel in die voertuig. Teen hierdie tyd was sy geliefdes rasend van kommer.

Jaco se motor is verlate by ‘n winkelsentrum in Pretoria aangetref.

Deon sê beamptes van die Villieria-polisie het intussen by die soektog betrokke geraak en die saak is dadelik met meer erns hanteer.

Hulle het die volgende dag, Vrydag, self ure lank saam met die polisie in die Cullinan-omgewing na Jaco gesoek. Omstreeks 11:00 het die polisie laat weet hulle het Jaco se liggaam op ʼn grondpad naby die N4, op die gras tussen ʼn paar bome, aangetref.

Die nuus was verpletterend, maar minstens het hulle nou geweet wat van Jaco geword het.

Deon sê die nadoodse ondersoek het gewys sy kleinboet is onder meer aangerand en gewurg.

Jaco en sy vriendin, Justene Koekemoer.

“Hy was ʼn mense-mens en het soveel vriende gehad. Hy was werklik ʼn loveable ou,” vertel Deon.

Die twee het nog ʼn broer, Neil, wat op St. Francisbaai woon. Hul ouers, Leon en Marcilla, is jare gelede reeds dood.

Verlede Maandag het hulle Jaco se liggaam ná die nadoodse ondersoek gaan uitken, Woensdag het hulle vir hom ʼn roudiens gehou en Vrydag het hulle hom by die broers se ma op Uitenhage in die Oos-Kaap begrawe.

Steeds is daar soveel vrae.

“Ons weet nie hoekom Jaco doodgemaak is nie, maar geregtigheid moet geskied. Die polisie moet ook álmal kry wat betrokke was,” sê Deon.

Hy sê ná nog ʼn wenk wat hulle aan die polisie deurgegee het, is ʼn verdagte geïdentifiseer. Dié persoon het glo sy eie lewe probeer neem deur ʼn oordosis pille te drink en hy is in ʼn Pretoriase hospitaal opgeneem.

Konst. Connie Moganedi, woordvoerder van die Cullinan-polisiestasie, het bevestig dat ʼn verdagte in die hospitaal op ʼn aanklag van moord aangekeer is en onder polisiebewaking behandel word.

Hy sal in die hof verskyn sodra sy gesondheid dit toelaat.

Deon sê hulle vind berusting in die Here en is dankbaar dat ʼn verdagte aangekeer is. Hy glo egter vas die polisie moes aanvanklik vinniger gereageer het.

“Ons kon hom dadelik gekry het as die Cullinan-polisie net hulle werk gedoen het. Ons het al die leidrade en inligting gekry en ons het steeds met die polisie gesukkel tot die Villieria-polisiestasie betrokke geraak het.”

Die perseel in die Cullinan-omgewing waar sy familie aanvanklik na Jaco begin soek het.

Maroela Media verneem die saak het aanvanklik geweldig gesloer weens ʼn toutrekkery tussen die Bronkhorstspruit-polisie en hul eweknieë by die Cullinan-polisie oor wie die ondersoek moet hanteer. Jaco is as vermis by die Cullinan-polisie aangemeld, maar sy liggaam is eindelik in die polisiëringswyk van Bronkhorstspruit gevind.

Weens die toutrekkery is die polisiebewaking van die verdagte ook tydelik opgeskort. Die verdagte word egter nou weer bewaak.

Jaco se vriendin, Justene, is ook platgeslaan. “Sy is stukkend en gebroke, maar sy gaan aan. Nes ons, klou sy aan haar geloof. Ons hou vas aan die Here en kyk vorentoe.

“Ons kan nie verander wat gebeur het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Toy ·

Ek kan nie glo dat die polisie so traag is om net mense te help met ‘n geliefde wat weg is. Gee hulle ooit om vir hulle geliefdes want dan sal hul verstaan hoe dit moet voel as iemand van hulle weg is.

Elize ·

Dis omdat hulle te lui is om te werk dat hulle oor alles stry en traag optree. Net soos die kabinet moet daar ook van baie van hulle ontslae geraak word. ‘n Lewe beteken niks in hierdie land nie.

Harley Davidson ·

Al weer polisie wat soos altyd nie hulle werk doen nie ,kla hulle aan by opod en dagvaar die individu wat nie sy werk wou doen nie.

Kathleen ·

sjoe , dit is verskriklik , weereens die polisie , hulle is veronderstel om ons te beskerm en hulle doen nie ‘n liefdadigheidswerk nie hulle verdien ‘n salaris daarvoor , maar ja hoe minder hulle doen hoe minder wil hulle doen . Sterkte aan julle 2 boeties en vriendin wat die seer moet verwerk , God sal julle vertroos in hierdie swaar tyd .

Elinette ·

Dis die hele probleem met 80% van die beamptes van die SAPD deesdae … vir hulle is dit nie meer ‘n eer en voorreg om in die Mag te dien nie (Servamus et Servimus), maar is dit bloot net nóg ‘n “job” met ‘n salaris aan die einde van die maand.

Belinda ·

ja die polisie van ons… mens moet hulle letterlik soebat en smeek om mens te help. Ek self was in n situasie waar ek my seun moes kry omrede sy pa hom rondgeskop het ens. Met n bakleiery het ek uiteindelik twee polisie manne gekry om my te vergesel om my seun te kry.
Mag die oorblywende Familie lede berusting by God vind. RIV Jaco.

Danie ·

Net soos jy dink die saps kan nie nog swakker wees nie, dan hoor jy van sulke onbeholpenheid.
Ek is sooo jammer dat ek help om hulle salarisse te betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.